Local news

Organisasies waarsku oor onderwysposte, vra ingryping

AfriForum veroordeel Gauteng se besnoeiing van subsidies en onderwysposisies by kwintiel 5-skole. Hulle eis groter outonomie vir finansieel selfstandige skole. Solidariteit en die SAOU waarsku teen negatiewe gevolge van besnoeiings vir onderrig, ouers en onderwysers. Hulle maan die departement om die besluit dringend te herevalueer.

Talle organisasies het in die tweede week van Oktober sterk standpunt ingeneem teen die besnoeiings wat deur die Gautengse Departement van Onderwys aangekondig is.

AfriForum, Solidariteit en die Suid-Afrikaanse Onderysersunie (SAOU) deel almal ’n bekommernis oor die effek van finansiële druk op skole, onderwysers en uiteindelik leerders.

AfriForum het veral beswaar gemaak teen subsidies wat op kwintiel 5-skole toegepas word.

Hierdie skole, wat as selfonderhoudend geklassifiseer word en dus nie op staatshulp staatmaak nie, staan nou voor die werklikheid van verminderde finansiële ondersteuning en ’n afname in onderwysposisies.

Die burgerregte-organisasie waarsku dat hierdie stap ernstige gevolge vir onderwysgehalte in die provinsie kan inhou.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum. Foto: Verskaf

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is die gevolge van hierdie besluit reeds duidelik: voller klaskamers, minder individuele aandag aan leerders, en verhoogde druk op ouers en beheerliggame om die finansiële las te dra.

Sy benadruk dat daar wel begrip is vir die breër fiskale druk wat die land ervaar, maar dat die wyse waarop skole hanteer word, onregverdig en onvolhoubaar is.

“Dat daar landswyd begrotingsuitdagings is, is geen geheim nie, maar dat van ouers verwag word om toenemend tot skole se uitgawes by te dra, terwyl hulle magte al meer afgeskaal word en in die provinsiale owerhede se hande geplaas word, is onaanvaarbaar,” sê Bailey.

Sy stel voor dat daar ’n nuwe model in plek gestel word waarin skole wat bewys het dat hulle finansieel selfstandig kan funksioneer, groter outonomie kry om hul eie bestuur, kurrikulum en etos te bepaal.

Hierdie voorstel is nie nuut nie.

AfriForum het dit reeds aan die regering voorgelê as deel van hul kommentaar op die Bela-wetsontwerp.

Bailey voer aan dat die huidige situasie jare in wording is en dui op ’n gebrek aan beplanning en toenemende sentralisering van mag.

Met die wetgewing wat voorskryf dat graad R ’n verpligte skooljaar word, word daar boonop nóg meer druk op reeds oorlaaide stelsels geplaas.

Die kwessie van onderwysposisies is ook in die kollig, met Johan Botha van Solidariteit se Onderwysersnetwerk wat ernstige kommer uitspreek oor die Gautengse Departement van Onderwys se voorneme om onderwysposisies te sny.

Volgens hom word laerskole veral hard getref, en is daar reeds skole wat kennisgewings van die afskaffing van tussen twee en sewe poste ontvang het.

“Hierdie eensydige aanpassing van die begroting bedreig nie net onderwysers se werksekerheid nie, maar plaas ook die begrotings van skole onder geweldige druk,” sê Botha.

Hy verduidelik verder dat, indien departementele poste gesny word, die las na die skoolbeheerliggame en uiteindelik na ouers verskuif.

Die enigste opsie vir skole is dan om skoolgeld te verhoog, iets wat in die huidige ekonomiese klimaat nie vir alle ouers haalbaar is nie.

Botha wys ook op die wyer impak van onderwysers se werkverlies.

“’n Onderwyser se werk raak nie net hom of haar nie maar dit raak elke leerder in daardie klaskamer. As daar minder onderwysers is, is daar minder kapasiteit om leerders behoorlik te ondersteun.”

Paul Sauer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Foto: Verskaf

Die SAOU het ook hulle insette gelewer.

Volgens uitvoerende hoof, Paul Sauer, het al nege provinsies vroeër in Oktober hulle postevoorsieningsnorme aan die Raad van Algemene en Veldonderrig (RAVO) voorgelê.

Hy beklemtoon dat alhoewel Gauteng aangedui het dat die totale aantal onderwysposisies vir 2026 onveranderd bly, daar steeds individuele skole is wat poste verloor het.

Die SAOU ondersteun skole en skoolhoofde in die appèlproses om hierdie besluite te betwis.

“Totdat die hele proses nie afgehandel is nie, kan daar nie uitsprake gemaak word oor die Gauteng postemandjie nie,” sê Sauer.

Hy voeg by dat die SAOU hom beywer vir ’n verantwoordbare en deursigtige hantering van die proses.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button