High SchoolLocal news

Groter onderwysertekort dreig, aksie dringend benodig

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie het Oktober as Onderwysermaand verklaar om onderwysers se welstand en waarde te beklemtoon. Die unie se uitvoerende hoof, Paul Sauer, waarsku teen 'n groeiende onderwysertekort en pleit vir groter ondersteuning.

Oktobermaand is vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) as Onderwysermaand verklaar: ’n maand waarin die fokus val op die eer, waardering en ondersteuning van onderwysers.

Alhoewel 5 Oktober wêreldwyd as Wêreld Onderwyserdag gevier is, meen die SAOU dat ’n enkele dag nie genoegsaam is om die bydrae van onderwysers te vier en die uitdagings waarmee hulle daagliks gekonfronteer word, werklik te belig nie.

Volgens Paul Sauer, uitvoerende hoof van die SAOU, is dit noodsaaklik dat onderwysers nie net gesien word nie, maar ook gehoor, ondersteun en doelbewus versterk word.

“In hierdie tyd waar onderwysers aan emosionele uitputting lei en waar die welstand van onderwysers gemeet kan word aan die vertrek van goeie onderwysers uit die stelsel, het dit tyd geword om meer gefokusde erkenning aan ons onderwysers te gee,” glo Sauer.

Die unie het daad by die woord gevoeg en onlangs skole in Pretoria en omgewing soos Die Hoërskool Menlo Park en Laerskool Generaal Beyers in die Moot besoek om dank en waardering met dankbetuigingsbesoeke te bring.

Sauer beklemtoon dat die SAOU die gesondheid en welstand van onderwysers as ’n kernprioriteit beskou.

“Die besoeke was deel van Onderwysersmaand en is gebring om na die welstand van onderwysers om te sien deur aktief en sigbaar in verskillende gemeenskappe, onderwysers te ondersteun. Die oorkoepelende tema is ‘Onderwys is ’n saak van die hart’.”

Hy verwys na internasionale statistieke, soos dié van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (UNESCO), wat ’n wêreldwye tekort van 44 miljoen onderwysers aandui en dit net vir basiese onderwys.

In Sub-Sahara-Afrika het die persentasie opgeleide laerskoolonderwysers van 85% tot 69% oor die afgelope 25 jaar gedaal, en by hoërskoolonderwysers van 79% tot 59%.

Sauer waarsku dat Suid-Afrika nie teen dié tendense gevrywaar is nie.

“Daarom is die behoud van gelukkige, gesonde en ervare onderwysers veral in Suid-Afrika ’n kernfokus,” verduidelik hy.

Volgens hom is een van die grootste redes vir hierdie krisis die professionele isolasie wat onderwysers ervaar.

Die gebrek aan ondersteuning vanaf skoolbeheerliggame, departemente, en dikwels ook ouers, dryf onderwysers uit die beroep, verduidelik Sauer.

Die unie pleit dus vir hernude vennootskappe tussen skole en hul gemeenskappe.

Sauer stel dit so: “Onderwys is ’n verhoudingstaak. Onderwysers kan nie in isolasie funksioneer nie. Hulle moet gewaardeer en ondersteun word deur die gemeenskappe waarin hulle werk. Dis slegs deur samewerking en waardering dat ons hierdie beroep weer aantreklik kan maak vir jongmense.”

Met die aanvang van die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen, verlaat nagenoeg een miljoen leerders die stelsel. Die onderwysers wat hulle van Graad R tot hier begelei het, bly egter agter, wys hy uit.

Hy het om hierdie rede ’n ernstige beroep gedoen dat onderwysers gekoester word.

“Dis tyd dat ons hul werksomstandighede verbeter, hulle erken, hoor en ondersteun. Dit is nodig om sodanige samewerkingsgeleenthede te skep sodat onderwysers ook waardevol kan voel.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button