Local news

Moot-kragstabiliteit: Lig aan die einde van die tonnel

Die Blesbok-substasie in Queenswood word volledig opgeknap ná maande van kragonderbrekings. Volgens DA-LPW Leanne de Jager bring nuwe toerusting en monitering groter stabiliteit. Raadslid Anru Meyer sê die projek, binne vyf maande voltooi, volg op ’n suksesvolle gemeenskapspetisie wat druk op die stad en provinsie geplaas het.

DA-lid van die Provinsiale Wetgewer, Leanne de Jager, het aan Rekord bevestig dat daar in Oktober ’n amptelike oorhandiging van die terrein vir die opknapping van die Blesbok-substasie plaasgevind het.

Volgens haar is dit die eerste stap in ’n broodnodige projek om die elektrisiteits-infrastruktuur in die Moot te stabiliseer.

“Die substasie sal volledig opgeknap word met nuwe toerusting om die netwerk te stabiliseer en te beskerm. Nuwe tegnologie sal ingespan word, insluitend afgeleë moniteringstoerusting om die las te monitor en soveel as moontlik kragonderbrekings te voorkom,” sê De Jager.

Dis goeie nuus vir veral inwoners van Queenswood, Kilnerpark en die Koedoespoort Industriële gebied wat reeds vir maande lank die gevolge van voortdurende kragonderbrekings voel.

Vir die eerste drie weke van Junie vanjaar was daar bykans daaglikse kragonderbrekings wat inwoners moedeloos, ontsteld en in baie gevalle selfs in gevaar gelaat het.

Bederfde kos, verhoogde sekuriteitsrisiko’s en ’n groeiende gevoel van verwaarlosing deur die metro het spanning kookpunt bereik.

Die Blesbok-substasie, wat ’n sentrale rol speel in die verspreiding van elektrisiteit na Queenswood en omliggende gebiede, het die afgelope paar jaar agteruitgegaan.

Hierdie verval het nie net die stabiliteit van die kragnetwerk beïnvloed nie, maar ook waardevolle bronne vir instandhouding en opgraderings elders in die netwerk beïnvloed.

Daarom is die nuus oor die opknapping van die Blesbok-substasie juis ook van groot betekenis vir die groter Moot-gemeenskap.

Sy voeg by dat hierdie vordering te danke is aan die samewerking tussen inwoners, die DA en die Gautengse Provinsiale Wetgewer.

“Dit is uitstekende nuus en kan toegeskryf word aan die druk wat ons op die metro se administrasie geplaas het en die suksesvolle petisie wat onderteken is. Die petisie is deur die provinsiale wetgewer gedryf, en die provinsie het ook druk op die metro geplaas. Daarom versoek ons inwoners indien hulle gevra word om ’n petisie te teken, ondersteun dit asseblief, want dit het groot invloed en mag om sake aan te spreek,” sê De Jager.

Sy het daarop gewys dat inwoners dalk ook agtergekom het dat daar reeds ook werk aan die Koedoespoort 132kV-substasie gedoen word.

“Ek is opgewonde om die vordering oor die volgende paar maande te sien namate die Blesbok-substasie opgeknap word. Dit behoort meer as die helfte van die probleme met netwerk-onstabiliteit op te los,” sê sy.

Die konteks van hierdie prestasie lê in maande se frustrasie en volgehoue druk.

Inwoners van die Moot, gesteun deur De Jager en die DA, het in Julie vanjaar ’n formele petisie aan die Gautengse Wetgewer oorhandig.

Die petisie is aanvanklik deur Queenswood-inwoner Gillian de Gouveia begin, wat ná weke sonder krag besluit het genoeg is genoeg.

Binne twee uur het die petisie reeds meer as 500 handtekeninge gehad.

Die inwoners het geëis dat die Gautengse regering en Eskom dringend ingryp om die vervalle substasies te herstel of selfs geheel en al te vervang.

Volgens De Jager was die toestand van die Koedoespoort-substasie destyds teen dié tyd ’n volwaardige infrastruktuurkrisis.

“Wat hier gebeur, is nie meer net ’n kwessie van gewone onderhoud nie. Dit is nou ’n volle infrastruktuurkrisis,” het sy ten tye van die petisie se opstel gesê.

Ná die oorhandiging van die petisie het die Petisiekomitee van die Wetgewer ingestem om die saak te oorweeg.

Die provinsie het daarna ’n formele versoek aan die metro gerig om binne sewe dae te reageer en ’n oplossing te bied.

Hierdie daadwerklike optrede het uiteindelik die pad gebaan vir die amptelike oorhandiging van die Blesbok-substasieprojek.

DA-raadslid, Anru Meyer, het die substasie besoek om herstelwerk te monitor. Foto: Verskaf

DA-raadslid vir die gebied, Anru Meyer, verduidelik dat die tegniese opgradering van die substasie wesenlike verbeteringe in dienslewering sal bring.

“Die 11kV-substasie sal toegerus word met nuwe panele en beskermingseenhede. Daar sal ook die moontlikheid wees vir monitering ter plaatse. Die beskermingseenhede en nuwe panele het tegnologie wat die infrastruktuur beskerm om te voorkom dat die krag onnodig uitskop en verdere skade te keer. Ná voltooiing van die substasie sal die stad die toevoernetwerk vanaf die 11kV-sub na huise kan evalueer,” sê Meyer.

Hy benadruk dat gemeenskapspetisies ’n noodsaaklike instrument is om regerings-aanspreeklikheid te verseker.

“Petisies is ’n meganisme wat meestal gebruik kan word om die regering te dwing om op kwessies te reageer wat nie voldoende aandag deur gewone kanale gekry het nie. Die provinsie het ’n grondwetlike rol om toe te sien dat die munisipaliteit die middele het om dienslewering te ondersteun. Indien nie, moet hulle bystaan. Die provinsie het die petisie ingedien en ’n reaksie binne sewe dae van die stad geëis,” verduidelik hy.

Meyer het verder bevestig dat die opknapping van die Blesbok-substasie binne vyf maande voltooi behoort te wees.

“Inwoners sal op hoogte gehou word deur die stad se kommunikasiekanale en deur my kantoor, veral wanneer daar oorskakeling na sekere lyne gedoen word sodat spanne aan die substasie kan werk, en weer teruggeskakel word na die nuwe panele,” sê hy.

Intussen is daar ook voortgesette instandhoudingswerk aan die Koedoespoort-substasie, ’n kritieke stap om verdere ineenstortings te voorkom.

Die twee projekte vorm deel van ’n groter strategie om die Moot se elektrisiteitsnetwerk te stabiliseer en te moderniseer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button