Local news

Grondpadfilosoof op sy 2 x 1

André de Villiers van Pretoria-oos bring jare se 4x4-ervaring sowel as bykans twee dekades se maak van TV-programme na 'n nuwe seisoen van 1 Spoor Avonture. Die voormalige meganiese ingenieur en pa van vyf seuns glo die beste tye is om in die natuur stil te raak en aan sy Skepper te dink.

Wanneer die oop pad roep en die son stadig oor die Karoo opkom, is daar een man wat altyd gereed is om sy valhelm op te sit en sy motorfiets se enjin te laat dreun: André de Villiers van Pretoria-oos.

As een van die aanbieders van kykNET se gewilde reeks 1 Spoor Avonture (nou in sy tweede seisoen), bring hy nie net tegniese kennis en 4×4-ervaring na enige reis of program nie, maar ook ’n lewenslus wat diep gewortel is in avontuur, natuur en geloof.

De Villiers, wat in die Bolandse dorpie Wellington gebore en grootgeword het, vertel dat sy liefde vir die buitelewe al vroeg begin het.

“Beste tye is wanneer jy in die natuur kan stil raak en aan jou Skepper kan dink,” sê hy met ’n rustige glimlag.

Sy ouers was albei onderwysers, iets wat, volgens hom, sy geduld en respek vir mense gevorm het en vandag duidelik deurskemer in die manier waarop hy met ander reisigers omgaan. Sy pa was ’n ywerige 4×4-geesdriftige.

Hy het vroeër bekendheid verwerf as aanbieder van die kykNET-reeks 4×4 Met André, waarin hy onder meer die ikoniese Spitzkoppe in Namibië besoek het. Die TV-program is vir verskeie seisoene uitgesaai.

“Kampvuur. Sterre. ’n Glas wyn. Na ’n dag vol stof en son is daar niks beter as nie,” vertel hy nostalgies.

Hy was verder ook bekend vir die TV-program Safari 4 x 4 roetes waarvan daar 14 seisoene was met die eerste reeks wat in 2007 uitgesaai was.

Na sy militêre diens het hy Oudtshoorn verruil vir Pretoria, waar hy hom mettertyd as meganiese ingenieur gevestig het.

Tog was dit nooit net die tegniese kant van dinge wat hom geboei het nie: dit was die reis en die pad opsigself.

Van sy eerste ritte oor die Boland se grondpaaie tot die epiese roetes van Namibië en Botswana het sy passie vir ontdekking net gegroei.

Hans Strydom, André de Villiers en Franswa Smit

Sy loopbaan het interessante draaie geloop. Buiten sy TV-werk vir bykans twee dekades nou, het hy ’n winkel vir 4×4-entoesiaste besit.

In die hartjie van Pretoria-oos was die winkel ’n plek waar stories en staal van die voertuie waarvoor hy en andere so lief is, mekaar ontmoet het.

Hy was ook deel van die span wat weermagvoertuie, soos die Mamba, ontwerp het.

In hierdie seisoen van 1 Spoor Avonture deel André die skerm met twee ewe passievolle reisgenote, Hans Strydom en Franswa Smit.

Strydom, ’n ervare veldmotorfietsryer met dekades se ervaring, bring sy praktiese kennis van meganika en roetebeplanning na die span terwyl Smit, stigter van My Bike Adventures & Toere, fokus op avontuurtoerisme en gemeenskappe langs die pad.

Saam vorm die driestuks ’n span waarvoor kameraadskap en avontuur prioriteit is.

Strydom ry op sy betroubare Honda Africa Twin, beter bekend as die ‘Rooikat’ en Smit op sy Suzuki V-Strom, ‘Samurai’.

“Ons het wonderlike agterpaaie vanaf Blanco tot by Zuurberg gery. Dit was ’n roete wat vir die span een groot hoogtepunt was,” vertel hy oor een van hul mees intense episodes.

Tog is dit juis dié onverwagte oomblikke, ’n pap wiel in die middel van nêrens, of ’n plaaslike boer wat met koffie kom help, wat die brul-avontuur eg en menslik maak.

Met sy BMW 1250 GS Adventure, liefdevol bekend as die ‘2×1’, ry De Villiers met selfvertroue deur stof en sonskyn.

“Dis ooppad-avontuur op sy beste, waar die son sak oor eindelose horisonne en elke draai nuwe stories bring,” sê hy oor hul ritte deur die Vrystaat en Oos-Kaap.

Hy is getroud met Ejtleen, en hulle het vyf volwasse seuns.

Wanneer hy nie voor die kamera is of op ’n grondpad verdwyn nie, is hy dikwels saam met familie of vriende om die kampvuur waar die stories vloei en die sterre hul enigste dak is.

As die stof sak en die enjin afskakel, bly daar vir hom iets besonders oor: stilte, eenvoud en die gevoel van vrede.

“Dis in daardie oomblikke,” sê hy, “wat jy jouself ontdek.”

OKK GELEES : Sanitation in Tshwane schools prioritised

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button