Local news

Beweerde kragdief kom sy moses teë ná ’n jaar

Na ’n jaar se stryd oor beweerde kragdiefstal in Pretoria-Noord het die metro uiteindelik stappe begin neem nadat ’n inwoner onweerlegbare videobewyse oorhandig het. Die metro ondersoek nou die voorval en belowe om binne weke stappe teen soortgelyke herhalende oortreders te neem.

’n Jaar lange stryd oor ’n beweerde kragdief in Pretoria Noord se gepeuter met krag het tot ’n einde gekom toe ’n inwoner uiteindelik met onweerlegbare bewyse en video’s na die metro gegaan het en die individu se gedrag uiteindelik ondersoek gaan word.

Na verskeie maande se aanhoudende klagtes, besoeke aan stadsraadkantore en die insameling van videobewyse vanaf veiligheidskameras, voel die klaer uiteindelik sukses is behaal.

“Die metro is daartoe verbind om hierdie saak binne die volgende paar weke af te handel,” sê metro-woordvoerder Lindela Mashigo.

Volgens die inwoner het die owerhede verskeie kere versuim om op te tree teen ’n buurman wat herhaaldelik met die straat se kragkas se koppelings van krag na vier huise gepeuter het. Die man het die krag na sy huis herlei, aangesien syne weens vermeende wanbetaling afgeskakel was.

Die bure se frustrasie het onlangs ’n hoogtepunt bereik toe ’n vervalste metro-briefhoof met ’n vervalste handtekening op die betrokke kragkas verskyn het, ’n dokument wat blykbaar deur die vermeende kragdief self opgestel en daar aangebring is.

Die kennisgewing toon aan dat sy rekening tans geouditeer word en geen krag of water afgesny mag word nie.

Die aanloop tot by hierdie punt verloop oor verskeie maande, verduidelik die klaer.

“Ons het ’n buurman wat verlede jaar betrap is dat hy met sy kragmeter in ons gesamentelike kragkas op die sypaadjie gepeuter het. Hy is daarna beboet en sy krag is ontkoppel. Binne ’n paar uur was hy weer onwettig aangeskakel,” verduidelik die klaer.

“Ek is in besit van CCTV-beelde wat alles wys, asook registrasienommers van voertuie van sogenaamde kontrakteurs wat hom weer kom aansluit het.”

Die inwoner vertel verder al die bewyse is gedokumenteer deur inwoners in die straat, van video’s tot WhatsApp-boodskappe, en is aan die stadsraad se amptenare by die metro se kantore in Marijastraat gestuur.

“In al hierdie maande van ons stryd teen die kragdief was daar maar min reaksie van die stadsraad of ons wyksraadslid. Die man se krag is net af en toe afgesny, en telkens is hy binne dae of selfs ure weer onwettig aan die netwerk gekoppel,” sê die inwoner.

Die situasie het verder eskaleer toe die klaer self ’n boete van meer as R30 000 ontvang het vir sogenaamde ‘onwettige heraansluiting’ terwyl krag by die klaer se adres nog nooit eens afgeskakel was nie.

“Ek het geskrik toe ek my stadsraadrekening in September ontvang. Daar was ’n boete van R30 000 teen my naam. Ek moes ses besoeke aan vier verskillende metro-kantore aflê voordat hulle erken het dat die boete foutief teen my opgelê is. Ek is soos ’n krimineel behandel, terwyl ek onskuldig was,” vertel die inwoner.

Die inwoner is ook in besit van video’s van onwettige kontrakteurs wat, sonder behoorlike magtiging of werkskaarte, die kragpeuteraar se krag weer aangeskakel het.

Mashigo het bevestig dat die metro bewus is van herhaalde onwettige aktiwiteite in Pretoria Noord rondom kragkaste sowel as die gepeuter aan kragskakelaars en dat ondersoeke aan die gang is.

Volgens Mashigo is daar streng prosedures wanneer ’n gepeuter met kragmeters of kragkaste aangemeld word.

Hy het ook bevestig dat die metro die spesifieke voorval tans ondersoek.

Sekere areas in Pretoria Noord word volgens hom as hoërisiko-gebiede vir onwettige aansluitings beskou.

“Sodra ’n geval van kragpeutery aangemeld word, stuur die metro ’n tegnikus uit om die beweerde insident te inspekteer,” verduidelik Mashigo. “CCTV-materiaal is baie nuttig om dade van peutery te bevestig en die oortreders te identifiseer.”

Mashigo sê herhalende oortreders bly ’n uitdaging vir die metro.

“Die metro hou herhalende oortreders, insluitend hierdie spesifieke adres, fyn dop om dalk arrestasies en toepaslike regstappe uit te voer,” sê hy.

Volgens hom word enige amptenaar of kontrakteur wat betrokke is by of hulp verleen aan onwettige aansluitings, aan interne dissiplinêre prosesse onderwerp.

“’n Groot uitdaging is voormalige kontrakteurs wat nie meer vir die stad werk nie, maar steeds probeer om toegang tot die netwerk te kry. Die metropolisie het die afgelope twee weke reeds vier verdagtes hieroor in verskillende gebiede gearresteer,” sê Mashigo.

Op die vraag watter bewyse nodig is om ’n saak tot kriminele vervolging te vorder, sê Mashigo elke geval word op sy eie meriete hanteer.

“Sodra daar voldoende bewyse van kragpeutery is, of dit nou ’n eerste of herhaalde oortreding is, word die saak aan die polisie gerapporteer. Die identiteit van die klaer word altyd beskerm.”

Mashigo bevestig dat daar ’n formele keuringsproses bestaan vir alle kontrakteurs wat gemagtig is om aansluitings of ontkoppelings te doen.

‘n Kragdief is in Pretoria-Noord is gefnuik deur CCTV-beeldmateriaal, foto’s en video’s sowel as dokumentering van sy gedrag deur inwoners wat hiermee die metro genader het. Foto: Verskaf

Volgens hom sukkel die metro egter steeds met individue wat hulself valslik voordoen aan die publiek as amptelike werkers.

“Ons kry dikwels mense wat saam met inwoners werk om onwettige aansluitings te doen. Die metro ondersoek hierdie gevalle aktief,” sê hy.

Hy sê die sogenaamde ‘administratiewe fout’ wat tot die R30 000 boete teen die klaer gelei het, is reeds reggestel.

Inwoners wie se verslae oor onwettige aansluitings nie ernstig opgeneem word nie, kan hul sake verder eskaleer.

“Sulke gevalle kan gerapporteer word aan revenueprotectionunit@tshwane.gov.za,” sê Mashigo.

Hy voeg by dat daar ’n proaktiewe inspeksie- en veiligheidsprotokol vir hoërisiko-gebiede bestaan.

“Kragkaste in gebiede soos Pretoria Noord word ondersoek wanneer tegniese spanne onreëlmatighede opmerk of wanneer inwoners dit aanmeld. Dit verseker vinnige ingryping waar nodig,” sê hy.

Volgens hom word inwoners wat onbewustelik vir hul bure se gesteelde krag betaal, beskerm.

“Elke aangemelde geval word deeglik ondersoek, en waar onwettige aktiwiteit bevestig word, word die kragpeuterfooi aan die werklike oortreder toegeken, nie aan die onskuldige inwoner nie,” sê Mashigo.

LEES: Water wastage crisis in north deepens

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button