Antwoorde geëis oor Pretoria skoolplasings-chaos
Vertragings, swak kommunikasie en verkeerde toekennings tel onder ouers se besware rakende die skoolplasingsproses. AfriForum doen ’n beroep op Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, om dit dringend aan te spreek.
Ouers van Pretoria en Centurion sit met hul hande in die hare oor die probleme met Gauteng se skoolplasingstelsel wat baie leerders sonder ’n bevestigde plek vir die 2026 adakemiese jaar laat.
Burgerregte-organisasie AfriForum doen nou ’n beroep op die Gautengse Onderwys LUR Matome Chiloane om dringend die kwessie aan te spreek en die plasingsproses te verduidelik.
Die organisasie het verskeie klagtes van bekommerde ouers ontvang wat óf nie ’n bevestiging ontvang het nie óf skole toegeken is wat nie hul voorkeurskole is nie.
Ondanks die feit dat plasings amptelik op 16 Oktober begin het, sê ouers dat daar tot dusver min kommunikasie of deursigtigheid van die Gautengse Departement van Onderwys (GDE) was.
Vanjaar se plasingsproses het ’n maand later as laas jaar s’n begin, en sedert die eerste week van November, wag vele leerders in Pretoria en Centurion steeds op bevestiging.
Sommige ouers het aangemeld dat die stelsel outomaties voorwaardelike aanbiedinge as finale plasings aanvaar, selfs al is dit nie onder die familie se voorkeurskole nie.
“Die stelsel is veronderstel om die proses makliker vir ouers en skole te maak, maar na soveel jare kan die Gautengse Department van Onderwys steeds nie daarin slaag om die proses probleemvry te laat loop nie,” sê Carien Bloem, hoof van onderwysprojekte by AfriForum.
Bloem voeg by dat hulle ’n prokureursbrief aan Chiloane gestuur het, waarin hulle ’n verduideliking eis oor die deurlopende plasingskwessies en dring daarop aan dat die departement duidelikheid moet gee aan geaffekteerde ouers en skole.
Die organisasie het ook sy kommer uitgespreek oor verskeie Pretoria skole met beskikbare plekke wat na bewering leerders toegeken word wat nie op hul registrastiestelsel gelys is nie, wat die proses verder bemoeilik.
Die GDE-woordvoerder, Steve Mabona, sê die departement wil ouers verseker dat elke aansoeker met ’n volledige aansoek ’n plasingsaanbod sal ontvang.
“Die proses duur voort, en daar is geen tegniese vertragings nie. Ouers wie se aansoeke nog verwerk word, word versoek om geduldig te bly terwyl ons alle plasings finaliseer,” sê Mabona.
Hy verduidelik dat ouers wat reeds ’n SMS-kennisgewing ontvang het dat hul kind in graad 1 of 8 geplaas is, moet daardie boodskap as finaal beskou.
“Dit is nie nodig om op die stelsel weer in te teken om die aanbod te aanvaar nie. Ouers wat egter aan meer as een skool aansoek gedoen het, mag ’n aanbod aanvaar terwyl hulle op ander wag,” voeg Mabona by.
Indien geen verdere aanbiedinge binne sewe dae na aanvaarding ontvang word nie, beteken dit dat die ander skole waarby aansoek gedoen is, reeds hul kapasiteit bereik het. In sulke gevalle, sal die leerder bly by die skool van die laaste aanvaarde aanbod.
Hy verduidelik dat plasingsaanbiedinge word gemaak volgens duidelike kriteria en word in volgorde van prioriteit toegepas in stede van ’n eerste-kom-eerste-gehelp basis.
Die kriteria sluit in huisadres binne die skool se voedingsgebied, broer of suster wat reeds by die skool geplaas is, werksadres binne die voedingsgebied, en huisadres binne of verder as ’n 30km radius.
“Plasing is altyd onderhewig aan skoolkapasiteit en beskikbare plekke,” sê Mabona. “Waar skole reeds vol is, sal die departement oordragsaanbiedinge na die tweede naaste skool met beskikbare plekke uitreik, maar slegs nadat daar bevestig is dat geen van die oorspronklike geselekteerde skole die leerder kon akkommodeer nie.”
Ouers wat hul kind se plasing wil betwis, mag binne sewe dae nadat hulle die plasingsaanbod ontvang het, aanlyn beswaar maak.
Om dit te doen, moet die aanbod eers verwerp word en ’n elektroniese beswaarvorm ingevul word.
“Besware word noukeurig hersien op meriete, en uitkomste word binne 14 dae gekommunikeer,” verduidelik hy. “Indien ouers steeds ongelukkig is, mag hulle binne sewe dae ’n appèl aanlyn indien. Appèlaansoeke word binne 14 tot 21 dae afgehandel, en daardie besluite is finaal.”

Geen besware of appèlaansoeke word egter toegelaat wanneer ’n leerder by een van die skole geplaas word waarby oorspronklik aansoek gedoen is nie.
Mabona benadruk die departement is daartoe verbind om regverdigheid en deursigtigheid deurgaans die proses te verseker.
“Ons werk onvermoeid voort om elke leerder vir die 2026 akademiese jaar te plaas. Ouers word gemaan om enigiemand te vermy wat beweer dat hul in ruil vir geld kan help met skoolplasings,” waarsku hy.
Hy herinner ook ouers dat alle amptelike kommunikasie van die departement slegs deur SMS of die Aanlyn Toelatingstelsel uitgereik word.
“Ouers moet geduldig en waaksaam wees terwyl ons alle plasings finaliseer,” sê hy.
Vir enige navrae, kan ouers die GDE-inbelsentrum by 0800 000 789 skakel of hul naaste distrikskantoor besoek.
AfriForum nooi ouers en skole wat probleme ondervind met die aanlyn registrasie of plasingstelsel om ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za te stuur.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
