EntertainmentLocal news

Vrou bewys talent het geen ouderdomsgrense

Met haar sagte maar vasberade stem, het Centurion se Lientjie Sothmann by ATKV-Buffelspoort gewys dat daar ’n lewenskrag lê in die stem van ervaring. Haar pad van onderwyser tot mentor, van liedjieskrywer tot wenner is ’n bewys dat musiek geen ouderdomsgrense het nie.

Die lug oor ATKV-Buffelspoort was op 4 November gevul met musiek en emosie toe die algehele wenner, Lientjie Sothmann, van die Andante Plus50-musiekkompetisie tydens die Plus50-kuierweek se gala-aand aangekondig is.

Hierdie besondere kompetisie, aangebied deur Cor Uys in samewerking met ATKV-Buffelspoort en die PLUS50-tydskrif, het gewys dat talent en kreatiwiteit nie aan ouderdom gebonde is nie.

Waar die organiseerders aanvanklik tussen 50 en 60 inskrywings verwag het, het hulle uiteindelik nagenoeg 200 inskrywings ontvang, ’n bewys dat musiek en inspirasie nie tot die jeug beperk is nie.

Die aand se groot wenner was Lientjie Sothmann (56) van Centurion, wat saam met haar neef, Izak de Villiers, beoordelaars betower het met hul duet Sterrenagkombers, ’n oorspronklike komposisie deur Sothmann self.

Sothmann se musiekverhaal het nie op ’n verhoog begin nie, maar in ’n klaskamer.

Sy vertel: “Ek het eers later in my lewe met musiek begin. Op universiteit het ek in die koor gesing en onder leiding van dr. Ernst Conradie my graad 7-klaviereksamen voltooi en dit is waar die musiekgogga my behoorlik gebyt het.”

Na universiteit het sy haar loopbaan in die onderwys begin, waar sy musiek en Afrikaans aangebied het.

Mettertyd het sy haar in Pretoria gevestig en op versoek van ouers en leerders, buitemuurse sangklasse begin aanbied.

“Ek was nie formeel as sanger opgelei nie,” verduidelik sy, “maar ek het later opleiding by afrigters soos Ina Wiegand, Ona Ackerman en Christopher Vale ontvang.”

Sothmann se eerste liedjieskryfervaring was in 2004 toe sy haar lied Jou verhaal vir die ATKV-Crescendo-kompetisie ingeskryf het. Sy is as een van die toptien finaliste gekies en het ’n werkswinkel by ATKV-Klein-Kariba bygewoon.

Haar Andante-wenlied Sterrenagkombers is ’n diep persoonlike komposisie wat haar pad van volharding, familie en geloof saamvat.

Sothmann verduidelik dat sy aanvanklik nie ’n lied gehad het om vir die kompetisie in te skryf nie.

“Ek het eintlik hoofsaaklik Engelse liedjies geskryf, en toe die inskrywingsdatum naderkom, het ek besef ek moet net begin skryf. Ek het gaan sit en sommer net begin en dit was asof die wysie en liriek saam ontstaan het.”

Sy beskryf hoe die lied deur inspirasie en herinnering gevorm is.

“Ek het geweet ek wil iets skryf oor die pad wat ek al geloop het soos die jare van groei, geloof, en dankbaarheid. Sterrenagkombers simboliseer vir my hoe God ons deur die lewe beskerm en toevou, nes ’n warm kombers onder die sterre.”

Die lied het verder betekenis gekry toe sy besluit het om dit saam met haar neef Izak uit te voer.

“Ek en Izak sing al van ons kinderdae saam op familiebyeenkomste en verjaarsdae. Ons grap altyd dat ons die karaoke couple is! Ek het besef die lied vra om as duet gesing te word en dit gaan immers oor verhoudings, familie en die mense wat saam met jou die lewe stap.”

Sothmann vertel dat die voorbereiding vir die kompetisie haastig maar opwindend was.

Vir haar was die ervaring veel meer as net ’n oorwinning.

“Hierdie kompetisie was ’n ongelooflike geleentheid vir mense bo 50 wat dikwels nie meer die kans kry om hul kuns te wys nie,” sê sy. “In my werk as stemafrigter sien ek daagliks hoeveel geleenthede daar vir kinders en jongmense is en dis wonderlik, maar vir mense oor 50 is daar amper niks. Organiseerder Cor Uys se visie was so suiwer en opreg. Hy het gesien dat ons ook nog iets het om te gee.”

Sy voeg by: “Die groot aantal inskrywings wys daar is ’n groot belangstelling onder ouer mense om weer te skep, te sing en te droom. Hoekom moet ons vergeet word? Musiek is nie soos sport waar jou liggaam jou beperk nie. Ons word net beter met tyd omdat ons breine verskerp, ons ervaring verdiep, en ons wysheid groei. Ek glo vas: ons word beter, nie ouer nie.”

Sothmann sien die oorwinning as bevestiging van haar roeping.

“Ek het nog altyd gevoel ek moet ander help soos my studente, my kliënte, die mense wat by my sangskool kom. Maar hierdie keer het ek vir myself geskryf. Dis asof die Here vir my gesê het: nou is dit jóú beurt om iets vir jouself te doen.”

Sedert die kompetisie is sy reeds besig met nuwe projekte.

“Ek het alreeds ’n tweede lied geskryf. Ek dink nie dit gaan noodwendig in dieselfde styl wees nie. Ek hou van variasie. Ek wil steeds by Afrikaans bly, want dis my hartstaal, maar ek wil ook ander genres aanraak.”

Sy verklap dat sy en twee vriendinne selfs beplan om ’n damestrio te begin.

“Ons is nog in die babaskoene daarmee, maar ons droom groot. Ons wil wys dat vroue oor 50 steeds iets nuuts kan begin en dat ons steeds stemme het wat gehoor verdien.”

Verder is sy ook betrokke by die Singsterre Ligte Liedjie-kompetisie, ’n nuwe inisiatief wat sy saam met ’n vriendin gestig het om Afrikaanse musiek te bevorder.

“Ons finale kompetisieaand is op 28 Februarie. Ons wil graag vir mense van alle ouderdomme ’n platform bied, jonk en oud, want musiek behoort aan almal.”

LEES: Antwoorde geëis oor Pretoria skoolplasings-chaos

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button