Splinternuwe skooltassies gee hupstoot aan 30 graadeentjies
Dertig graad 1-leerders by Laerskool Swartkop het ten volle toegeruste skooltasse op hul eerste skooldag ontvang. Dit vorm deel van Solidariteit Helpende Hand se landswye Skooltassieprojek.
Laerskool Swartkop in Centurion was in rep en roer met die nuutste groep graad 1-leerders wat hul formele skoolloopbaan op 14 Januarie met ’n ekstra hupstoot van selfvertroue begin het.
Hulle het die eerste dag van hul skooljaar ingegaan met opgewonde glimlaggies en is begroet met musiek en splinternuwe skooltassies van Solidariteit Helpende Hand.
Dié laerskool is as een van 160 skole landswyd gekies om by Solidariteit Helpende Hand se Skooltassieprojek baat te vind. Dertig graadeentjies is nou ’n skooltassie ryker.

Rekord het tydens ’n besoek aan die skool gesien hoe gretige leerders hulself in hul nuwe omgewing vestig terwyl musiek deur die organisasie gespeel is wat tot die feestelike atmosfeer bygedra het.
Teenwoordigers van Helpende Hand het saam met die organisasie se gewilde superheld-gelukbringer, Braaf die Boerboel, skooltassies aan die opgewonde leerders uitgedeel.
Die Skooltassieprojek is deel van ’n landswye inisiatief wat 2 000 ten volle toegeruste skooltasse aan minderbevoorregte graad 1-leerders hierdie jaar versprei, waarvan ongeveer 160 skole by baatvind.
Volgens Solidariteit Helpende Hand se mediaskakelbeampte, Philip Bruwer, verseker die projek dat minderbevoorregte graad 1-leerders hul eerste skooldag met selfvertroue kan begin.
Bruwer verduidelik dat die Skooltassieprojek, nou in sy 19de jaar, daarop gemik is om graad 1-leerders by Afrikaanse skole te ondersteun.
“Die skooltasse word op die eerste skooldag aan kinders oorhandig om te verseker dat elke leerder hul skoolloopbaan met die nodige skryfbehoeftes en ’n gevoel van gereedheid begin.


Elke skooltas bevat noodsaaklike items soos ’n skêr, gom, skerpmaker, uitveër, liniaal, uitdraaikryte, inkleurpotlode, grys HB-potlode, ’n witbord, witbordmerkers en ’n pennehouer,” sê hy.
Vanjaar het Helpende Hand ’n stap verder gegaan om ’n volledige 2020-vertaling van die Bybel in elke sak in te sluit, wat moontlik gemaak is met die ondersteuning van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Projekorganiseerder Danelle du Plessis verduidelik dat Laerskool Swartkop ook hierdie jaar gekies is vir verspreiding, aangesien die projek daarop gemik is om ’n ander skool elke jaar te beklemtoon.
“Laerskool Swartkop is ’n skool waarmee ons goed saamgewerk het in die verlede en dit was vir ons ’n voorreg om die eerste dag van die skooljaar met hulle deur te bring,” sê sy.


Sy sê die inisiatief is in 2007 van stapel gestuur in reaksie op die toenemende behoefte onder kwesbare gesinne vir basiese skoolbenodighede.
“Wat as ’n klein inisiatief begin het, het intussen tot ’n landswye projek gegroei wat duisende graad 1-leerders oor die jare ondersteun het,” sê Du Plessis.
Sy benadruk dat die fokus op graad 1-leerders doelbewus is, omdat dit ’n kritieke mylpaal in ’n kind se lewe is en is hul eerste formele inleiding tot die onderwysstelsel.
As ’n kind sonder die basiese benodighede skool begin, kan dit die kind dadelik benadeel.
“Deur om op graad 1-leerders te fokus, streef ons daarna om die speelveld van die begin af gelyk te maak en kinders te help om die klaskamer met selfvertoue en ’n gevoel dat hul daar behoort te betree,” voeg Du Plessis by.
Sy verduidelik dat om elke skooltas voor te berei ’n noukeurige bestuurde proses is wat met ouderdomsgeskikte leergereedskap verpak word. Fondsinsamelings vind regdeur die jaar plaas om die projek te onderhou.
“Die 2 000 sakke word in al ons 15 streke versprei en elke streek hou sy eie verpakkingsdag.”
Sy sê die proses kan etlike maande duur om te verseker dat elke sak aan die vereiste standaard voldoen. Du Plessis voeg by dat skole doen namens behoeftige leerders aansoek, om te sorg dat die skooltassies diegene bereik wat dit die nodigste het.
“Onderwysers meld dikwels verbeterder deelname in die klaskamer en ’n meer positiewe begin van die skooljaar onder leerders aan wat ’n skooltas ontvang.”
Buiten die skryfbehoeftes, sê Du Plessis, het die projek ten doel om ’n dieper boodskap aan die kinders te stuur.
“Vir ’n graad-1 kind beteken ’n skooltassie soveel meer as net skryfbehoeftes. Dit gee behoeftige kinders die selfvertroue om skool toe te gaan en te voel dat hulle daar behoort.”
Sy voeg by dat die insluiting van die Bybel deel is van die projek se poging om kinders nie net akademies toe te rus nie, maar ook emosioneel en geestelik.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
