Local news

Pretoria-skole troon bo ander uit in 2025-uitslae

Drie van Pretoria se voorste skole het Gauteng se akademiese ranglys oorheers met uitsonderlike matriekuitslae. Hierdie skole het elk op verskillende terreine uitgeblink van hoogste gemiddeld tot meeste onderskeidings en sterkste graadtoelating.

Pretoria se tradisionele vlagskipskole het weer die pas aangegee in die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen, met Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP), Die Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof wat onderskeidelik as die drie beste skole in Gauteng aangewys is.

Die uitslae toon nie net individuele uitnemendheid nie, maar ook ’n merkwaardige gesamentlike prestasie wat die hoofstad se reputasie as akademiese sentrum verder verstewig.

Die prestasies weerspieël jare se beplanning, konsekwente onderrig en gemeenskappe wat saamwerk om jongmense tot volwassenheid te lei.

AHMP is as die nommer-een akademiese skool in Gauteng bekroon. Die skool se toppresteerder, Evelynne Nel, het ’n indrukwekkende gemiddeld van 92% met nege onderskeidings behaal. Altesaam 247 matrikulante het geslaag met ’n uitsonderlike gemiddelde van 75% oor alle kandidate. Die klas van 2025 het saam 791 onderskeidings opgelewer.

Die skoolhoof, Zinnette de Wet, sê uitnemendheid is nie toevallig nie, maar “die resultaat van ’n doelbewuste kultuur, onwrikbare toewyding en ’n ondersteunende skoolgemeenskap”.

Sy beklemtoon dat prestasie nie vanselfsprekend is nie, maar groei uit “’n gesonde werketiek”.

Volgens haar beskik die meisies oor durf en dryfkrag “om uitdagings reguit in die oë te kyk en dan is dit gerugsteun deur ’n toewyding tot hul eie doelwitte en drome”.

De Wet sê die matriekgroep se sukses is nie in isolasie behaal nie: “Hul akademiese fokus is gedra deur ’n span toegewyde personeel wat mentors is wat die volle potensiaal in elke jong volwassene wil ontsluit.”

Sy wys daarop dat in 2026 die skool in sy 106de bestaansjaar konsentreer op wat werklik tel, naamlik die individu.

“Op ons rooi stoepe ervaar leerders geborgenheid en die wete dat elkeen van hulle en ons op die naam geroep is. Ons 2026-tema is gepas: naamnalatenskap, en ons kyk vorentoe met die wete dat die kollektiewe nalatenskap in ons elkeen se karakter gesetel is.”

De Wet sê by hul skool word nie net op ’n ryke geskiedenis gebou nie, maar op integriteit en waardes wat meisies voorberei om die toekoms in te stap om ’n impak te maak. Sy noem dit ’n voorreg om te sien hoe jong vroue ontwikkel wat ’n verskil in die wêreld gaan maak.

Kort op hul hakke volg Die Hoërskool Menlopark as die nommer-twee skool in Gauteng. Menlopark se topkandidaat, Andries Beyers, spog met 93%-gemiddeld en nege onderskeidings.

Die skool het die hoogste aantal onderskeidings van die drie skole behaal, naamlik 956, terwyl 330 leerders die eindstreep suksesvol gehaal het. Met ’n graadtoelatingsyfer van 98% is Menlopark deur die Gautengse Departement van Onderwys as die beste gemengde skool in die provinsie vereer. Die skool se algehele akademiese gemiddeld het weer bewys dat ’n gestruktureerde program van graad 8 af vrugte afwerp.

Skoolhoof Kobus Hartman skryf die sukses toe aan langtermynbeplanning en gee erkenning hiervoor aan die akademiese hoof, Ermentrude Foord.

Hy sê die fokus begin ook reeds wanneer kinders in graad 8 aankom en met verrykingsvakke, ’n lees-plus- en wiskunde-plusprogram, ondersteun word.

“Ons evalueer en doen opvangwerk in wiskunde en tale aan die begin van hul loopbane in ons skool sodat kinders bemagtig word om met begrip te kan lees en beter te kan leer.”

Hartman sê wanneer na die 2025-groep gekyk word, is daar rede vir groot dankbaarheid, veral in kernvakke. Hy wys op onderskeidingsyfers van 42% in Afrikaans, 44% in Engels, 62% in Frans en 60% in Duits en sê hy is veral trots daarop dat 73% van die matrikulante in die vak Inligtingstegnologie met onderskeidings uitgeblink het.

Volgens Hartman gaan deurlopende sukses oor roetine en ’n gevestigde program met ’n toetsrooster waarvan nie afgewyk word nie.

“Aan die begin van die jaar word alles gekommunikeer. Matrikulante het vanjaar 95 skooldae voor hulle klaar maak en jy moet hard werk van dag een af.”

Hy sê die kwaliteit van onderrig bly die kern: ’n groot premie word geplaas dat die onderwyser in die klas bewese ervaring en goeie vakkennis het.

“Ons is werklik bevoorreg omdat ons skool se werk-etos gesond is en kinders en personeel veilig voel. As jy veilig voel, blom jy as jy in die son staan.”

Sy droom is om in 2026 die standaard van gemiddeld 2.9 onderskeidings per matrikulant te handhaaf en moontlik te verbeter.

Hoërskool Waterkloof, wat die derde plek inneem, het met die grootste matriekgroep gespog.

’n Totaal van 393 het geslaag en saam 988 onderskeidings verwerf, die hoogste totaal in Gauteng in hierdie kategorie. Toppresteerder Heinrich Sutton het ’n merkwaardige gemiddeld van 94% met agt onderskeidings behaal. Die skool se algehele gemiddeld was 71%, terwyl 97% van kandidate vir graadstudies kwalifiseer.

Die skool is beloon as die hoogste presterende skool in die Tshwane Suid-distrik.

Die waarnemende hoof, Juan Nagel, sê hy is dankbaar vir die harde werk van leerders sowel as die getroue ondersteuning van onderwysers en ouers.

Hy beklemtoon die personeel “het veel meer gedoen as wat van hul geverg word en ook met gewillige harte. Die personeel stel hul eie hoë verwagtings aan hulself.”

Nagel sê een van die suksesfaktore vir die matrieks is dat die uitwerk van vorige vraestelle ’n belangrike leerstrategie van die skool is.

Hy bedank ook die voedingslaerskole in die omgewing en voeg by dat dit baie met die akademiese sukses te make het “dat die leerders reg en voorbereid hul loopbane kan aanpak na laerskool”.

Volgens hom verg dit ’n hele gemeenskap om matrieks se sukses te verseker.

“’n Gemeenskap moet saamtrek om die nodige ondersteuning, ook emosioneel en geestelik, te gee.”

Vir 2026 glo Nagel dat ouers, leerders en personeel reeds gefokus is. “Ons skool is gereed om vanjaar elke struikelblok te oorkom. Ons planne is reeds in plek vir die jaar se akademiese sukses.”

Die Solidariteit Skole-ondersteuningsentrum stel jaarliks lyste van topskole in Suid-Afrika saam. Grafiek: Verskaf.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button