Die Moot-projek kry vroeg momentum
Gemeenskapsamewerking bly die sleutel tot volhoubare verbeterings in die Moot, reken een van die stigters van die Moot-projek. Projekte vir vanjaar het reeds momentum begin kry.
Vroeg vanjaar het Die Moot-projek weer besig geraak met verskeie opknappings- en instandhoudingsprojekte regoor Mayville, Queenswood, Waverley en Rietondale.
Van parktoerusting se verfwerk en grasperk-snywerk tot die aanbied van gemeenskapsmarkte in Lockhouse-park, toon die projek hoe samewerking tussen werkers, skenkers en die metro ruimtes skoner, veiliger en meer verwelkomend maak vir inwoners van die Moot.
’n Kragtige voorbeeld van wat gemeenskapsamewerking kan vermag, het in die eerste week in Februarie in Mayville afgespeel. Hande is geneem om die omgewing naby Laerskool Boerefort in Mayville op te knap.
Die skropsessie het langs die spruit en voor die skool in Vyfdelaan plaasgevind en het sowat 80 vrywilligers gelok, wat dit een van Die Moot-projek se grootste aksies tot dusver maak.

Die fokus was op die oop sny en skoonmaak van erg oorgroeide areas om die omgewing veiliger en netjieser vir leerders en die breër gemeenskap te maak.
Volgens Johan Oberholster, mede-stigter van Die Moot-projek, wys die inisiatief presies waartoe ’n gemeenskap in staat is wanneer mense saamstaan.
“Dis vir my so ’n mooi voorbeeld van wat die gemeenskap kan vermag as hulle saamwerk,” sê Oberholster.
Hy meen die projek dien as inspirasie vir ander dele van die Moot om ook betrokke te raak. “Dink net wat ons kan vermag as die Moot-gemeenskap oral hande vat en saamwerk om ons omgewing op te hef,” voeg hy by.
Ben Fourie, hoof van Laerskool Boerefort, het saam met Die Moot-projek en ander rolspelers die leiding geneem, terwyl onderwysers, leerders en inwoners skouer aan skouer gewerk het. Die opruimaksie het nie net fisiese verandering gebring nie, maar ook ’n gevoel van trots en samehorigheid versterk, volgens Fourie.
Oberholster het ook sy waardering uitgespreek teenoor 80 vrywilligers wat hul tyd en energie op eie stoom ingesit het, asook Die Moot-projek se kontrakwerkers wat, volgens hom, “soos altyd getrou kom help het”.

Oberholster verduidelik dat die Mayville-projek volg op ander projekte wat reeds vanjaar aangepak is.
Vroeg vanjaar het Die Moot-projek reeds momentum opgebou met verskeie opknappings- en instandhoudingsprojekte wat teen die einde van Januarie suksesvol afgehandel is.
Die inisiatief, wat sedert 2022 fokus op die versorging van openbare ruimtes en munisipale infrastruktuur, toon nou tasbare resultate regoor Queenswood en Rietondale.
Die park tussen 31ste en 32ste lane in Pierneefstraat, waar Die Moot-projek se eerste restourasiewerk in Junie 2022 begin het, het onlangs weer ’n vars voorkoms gekry. Danksy die volgehoue ondersteuning van die Lowe-familie, asook ’n anonieme skenker van 32ste Laan, is die verfwerk verfris.
Oberholster verduidelik omdat die oorspronklike voorbereidingswerk steeds in ’n goeie toestand is, kon die opknapping vinniger en doeltreffender plaasvind.
Die Moot-projek se werker Hendrick Makopo het die verfwerk behartig, terwyl die metro ook bygedra het deur die gras in die park in Januarie te sny.
Intussen raak Queenswood se openbare ruimtes toenemend netjies en funksioneel danksy die Die Moot-projek.

Opgraderings by Queens Quarter, op die hoek van Shilling- en Fontanastrate, het ’n sigbare verskil gemaak.
Oberholster spel dit uit: “Die benadering bly doelgerig: stap vir stap, straat vir straat, om ruimtes te skep wat skoner, veiliger en meer verwelkomend is.”
’n Belangrike mylpaal vir die gemeenskap is die verwesenliking van Die Moot-projek se visie om markte in Lockhouse-park in Codoniastraat aan te bied.
Hierdie droom het reeds verlede jaar werklikheid geword, met nog ’n suksesvolle mark wat in Januarie vanjaar aangebied is. Talle stalletjies het met uitstallings van produkte deelgeneem en die geleentheid het nie net lewe in die park gebring nie, maar ook plaaslike entrepreneurs ondersteun.
In Rietondale is verdere instandhoudingswerk in Tom Jenkins-park voltooi.
Die Moot-projek het sy dank uitgespreek teenoor al die werkers, skenkers en vennote wat hul tyd en hulpbronne beskikbaar stel.
Lees: Tweede fase van konsultasies oor onwettige nedersettings begin binnekort
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
