Toe vriendskap liefde word…
Wat eens op 'n Valentynsdag begin het met ’n enkele oranje gerbera in ’n pot, leef nou voort in ’n karaktervolle Moot-huis vol rus, herinneringe en gedeelde drome. En die gerbera het vanjaar veelvuldig aan die blom gekom vir Valentynsdag!
Valentynsdag vanjaar vind Tanya Michelle (38) en Logan Pietersen (34) in ’n karaktervolle tuiste in een van die Moot se stil strate, ’n huis van rus en die bewyse van die diep verbondenheid tussen die twee skeppende mense. ’n Verbintenis nie net aan mekaar nie, maar ook aan die loopbane en die drome wat hulle saam bou.
Hul liefdesverhaal is nie ’n sprokie van kitsromanse nie, maar van vriendskap wat stadig wortel geskiet het en uiteindelik begin blom het.
Pietersen is bekend vir liedjies soos Bring my terug, opgedra aan Suid-Afrikaners wat in die landbousektor in Amerika werk en die gewilde Whiskey en water, rooi wyn of jy?
Sy nuwe enkelsnit word vroeg in April deur Vonk Musiek uitgereik en simboliseer vir albei ’n nuwe seisoen, musikaal en persoonlik.
Michelle, self ’n kreatiewe gees, was vantevore aan Dozi se sy, maar ná die einde van die verhouding ’n paar jaar gelede het sy en Logan mekaar op ’n ander vlak begin leer ken. Hulle het mekaar gereeld tydens musieksessies op Dozi se plaas so terloops ‘raakgekyk’.
“Ons het nie gesoek na liefde nie,” vertel Pietersen. “Ons het mekaar net as mense ontmoet wat albei seer gehad het.”
Die afgelope ses maande was vir Tanya besonders swaar ná twee sterftes van geliefdes. Troos het nie vanself gekom nie.
Pietersen, wat self sy ma en suster aan die dood afgestaan het, het geweet hoe dit voel om deur rou tot ’n stil tyd in jou lewe gedwing te word en kon haar ’n skouer bied om op te huil wanneer nodig.

Michelle is die ma van twee dogters, Jemma Gabriella en Mohygin-Sky, en dit was vir haar belangrik dat enige verhouding ook veilig en eg vir hulle moet wees.
“Logan het nooit probeer indruk maak nie,” sê sy. “Hy het net opgedaag vir ons, oor en oor.”
Pietersen vertel hul nadere kennismaking met mekaar het inderwaarheid drie jaar gelede begin toe sy as ’n vriendin saam met hom en sy gesin tydens hul tradisionele Kersvakansie in 2022 gaan uitkamp en kuier het langs ’n dam.
Albei was besig om te herstel van verhoudings wat beëindig is. “Ons het veilig bymekaar gevoel as vriende,” onthou hy. “Toe nooi sy my vir ’n bier en een aand, sowat drie maande later, en skielik was daar ’n vonk van veel meer as vriendskap. Ons het geweet iets het tussen ons verander.”
Teen daardie tyd was Pietersen reeds besig om sy voete as musikant te vind. Hy het baie oor die bedryf geleer by sy neef, Jacques du Plessis, asook by Michelle, wat dikwels musikante se loopbane en besprekings bestuur.

Sy eie kreatiewe pad het in 2025 ’n hoogtepunt bereik toe hy die FAK se Skryfit-kompetisie gewen het met sy lied Afrikaans, my taal. Vir die skryf van die musiek en lirieke het hy die bekende Pretoria-sanger Nádine as mentor gehad.
’n Simboliese oomblik in hul verhouding was toe Pietersen twee jaar gelede op Valentynsdag vir Michelle ’n oranje gerbera in ’n pot gegee het, sy sogenaamde liefdesblom wat hy in hul Moothuis se tuin uitgeplant het.
“Dit was nie ’n ruiker wat sou verlep nie,” sê Michelle glimlaggend. “Dit was iets wat ek moes versorg. Dit het my oortuig daar is iets spesiaal tussen ons.”
Teen Oktober 2023 het hul verhouding verdiep. Michelle het Pietersen aan haar familie voorgestel en hy het deel geword van die familiekring, insluitend haar twee dogters.
“Ons het geweet ons wil ’n pad saam loop,” sê Pietersen. “Ons kom lekker oor die weg en verstaan mekaar se gevoelens.”
Die paartjie het onlangs ingetrek in ’n huis in die Moot op ’n ruim erf met ’n breë stoep en ’n lang geskiedenis. Langs hul agterwerf is een van die eerste huise in die omgewing, nou bykans 300 jaar oud. In hul eie erf het die twee nou ’n dammetjie gemaak rondom die eerste fontein en put waar menige inwoners tydens Pretoria se vestigingsjare water gekry het.
Michelle het die geskiedenis daarvan nagevors. Sy is juis lief daarvoor om ougoed bymekaar te maak, en ken elke item se storie.
Soos dit met die weg van ware liefde gaan, is alles nie heeltyd maklik nie. Kort ná hul intrek is al Pietersen se toerusting vir optredes gesteel, ’n groot slag vir die musikant wat gereeld optree en dikwels in die pad moet val om landwyd op te tree.
“Dit het gevoel asof die wind uit my seile geslaan is,” erken hy, maar hy kon weer sy kop lig en het alweer talle optredes agter die rug.
Drome is daar egter baie. Pietersen het ’n uitnodiging van Suid-Afrikaanse boere ontvang om konserte in Amerika aan te bied, en Michelle bou reeds in haar gedagtes aan die vooruitsig rondom ’n stadige sloertoer deur die VSA se landbougebiede.
Sy droom ook self daarvan om ’n saadbiblioteek te begin waar plantliefhebbers sade kan bring en uitruil. Haar kruietuin is reeds goed aan die gang, en talle geregte vir haar komende kookboek, Recipes From The Heart, word in hul Moot-kombuis getoets mits Gypsy die skilpad nie eerste by die groente en slaai uitkom nie.

Sy het al op TV tydens kookprogramme opgetree en vergader as entrepreneur gereeld saam met die Friday Club in Pretoria, ’n groep entrepreneurs wat idees deel en mekaar inspireer.
Vra mens oor wat vir hul verhouding werk, is die raad eenvoudig: gedeelde drome, om saam stil te word, en om bewustelik te kommunikeer. Deesdae skryf hulle ook saam liedjies.
Hul verhouding is ’n sagte, standvastige verbintenis steeds gebou op vriendskap, gedeelde verlies en gewortel in begrip, kreatiwiteit en die daaglikse keuse om stadig saam te groei, te genees en mekaar se tuiste te word.
Die huis self weerspieël die verhouding: ’n gemaklike ruimte vol sentimentele foto’s, kunswerke wat sy oor die jare gemaak het, en herinneringe aan geliefdes, insluitend ’n groot foto van Pietersen se oorlede ma. Onder die koeltebome lê die Great Dane, Argos, uitgestrek, terwyl die Schnauzer, Stoffel, sy oubaas en ounooi soos ’n skaduwee volg en die kiets op die werf, Jade, spelerig langs Gypsy koers kies na die groente-akker.
Vanjaar is Valentynsdag vir die twee nie net oor romanse of ’n gerberablom nie, maar oor dankbaarheid. Dankbaarheid vir tweede kanse en die sagte sekerheid van innige saamwees sedert ’n Valentynsdag ’n paar jaar gelede.
Lees: Tweede fase van konsultasies oor onwettige nedersettings begin binnekort
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
