Local newsLocal sport

Interhoër by Pilditch: Skole spring self in om terrein reg te ruk

Vandeesweek se atletiek het verskeie probleme by die Pilditch-stadion in Pretoria na vore gebring, insluitend oorgroeide plantegroei, vandalisme en kabeldiefstal.

Met die atletiek interhoërseisoen wat hierdie week sy hoogtepunt in Pretoria bereik het, het twee skole wat vanjaar die twee grootste byeenkomste aanbied self moue opgerol om die Pilditch-terrein gereed te kry om op 26 en 27 Februarie duisende atlete en toeskouers te kan huisves.

Hoërskool Brits het vanjaar die B-bond byeenkoms aangebied, terwyl Hoërskool Zwartkop verantwoordelik is vir beide die A-bond byeenkoms en die sogenaamde ‘Super Interhoër’ wat op 3 Maart sal plaasvind. Laasgenoemde akkomodeer skole uit Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes.

Adjunkhoof van Hoërskool Brits, Jakkie Louw, het aan Rekord verduidelik dat hulle in hul beplanning en voorbereiding vir die aanbieding van die B-bond byeenkoms gou besluit het dat die skool self hul moue sal oprol om die verwaarloosde terrein op te knap.

Oorgroeide gras gesny

Volgens Louw was die terrein waarop die stadion geleë is, asook die aangrensende terrein wat voorheen die Pretoria Skou gehuisves het, in ’n ‘skokkende toestand’. Lang gras, onkruid, onversorgde bome en ander plantegroei, asook dele van die vaste strukture het ernstig aandag benodig.

“Omdat hierdie drie byeenkomste baie groter is as die C-, D-, en E-bond byeenkomste wat vroeër in die week plaasgevind het, moet ekstra parkeerreëlings getref word,” verduidelik Louw.

“’n Deel van die skouterrein word dus gebruik om skoolbusse te parkeer, waarna skoliere die stadion vanuit die oostelike ingang moet binnekom. Dit het dae geneem om dit te probeer reabiliteer en toeganklik te maak.”

Later sou hulle ook uitvind dat al die kragkabels wat die vier spreiligmaste van elektrisiteit voorsien waarskynlik gestroop is.

Die implikasie hiervan was dat byeenkomste só vlot moet verloop, dat die terrein voor ‘laaste lig’ ontruim moes word.

Stukkende stoele is vervang.

Die substasie by die spreiligmas in die noord-oostelike hoek van die stadion is ook so erg gevandaliseer dat die dak ineengestort het.

Intussen het hoërskole Brits en Zwartkop oor die probleem begin korrespondeer en laasgenoemde het ook by die opruimingsprojek betrokke geraak.

Douw Pretorius, adjunkhoof van Zwartkop, het aan Rekord gesê dat hulle veral aandag geskenk het aan die toiletgeriewe in die suid-oostelike hoek van die stadion.

“Ons akkommodeer meer as 10 000 mense tydens die A-bond en die Super Interhoër en dis eenvoudig onmoontlik om van almal te verwag om die toiletgeriewe in die stadion te gebruik. Hoewel ons ook ekstra tydelike toilette huur vir die byeenkomste, is daar baie mense wat eerder behoorlike geriewe verkies,” sê Pretorius.

“Ons het dus ’n plan gemaak om die toilette in die suid-oostelike hoek te reabiliteer. Gebrekkige krag en watertoevoer was ook ’n uitdaging,” verduidelik Pretorius.

Die area rondom hierdie toilette, sowel as die trappe vanaf die graswalle wat daarheen lei, was toegegroei met onkruid en lang gras, terwyl die graswal self ook versorg moes word om die groot getalle skoliere by die groter interhoërbyeenkomste te huisves.

Louw en Pretorius het albei hul waardering uitgespreek teenoor AfriForum, wat intussen ook betrokke geraak het by die proses om die stadion en omgewing op te ruim en gereed te kry vir die interhoërbyeenkomste.

Lede van AfriForum wat gehelp het om die terrein skoon te maak.

“Daar was nog ander uitdagings soos bome wat omgeval het op die terrein en toegang vir skoolbusse uit WF Nkomostraat wat gereël moes word. AfriForum het gehelp om dié probleem ten opsigte van toegangshekke op die skouterrein uit te sorteer, sodat daardie logistieke uitdaging oorkom kan word,” sê Pretorius.

Gebreekte stoele op die hoofpaviljoen is vervang en kos vir beamptes en gaste is elders voorberei, aangesien kombuistoerusting soos yskaste en stowe in die onthaal-area van die stadion nie in ‘n werkende toestand is nie.

Rekord het tydens ’n ondersoek oor die saak navraag by sowel die stadionbestuurder en die Departement van Sport, Ontspanning en Infrastruktuur-ontwikkeling van die Tshwane metro gedoen.

Felix Rajuili, afdelingshoof van dié departement, het laat weet dat die navraag na die direkteur, Peter Mouton, deurgestuur is vir kommentaar, maar teen druktyd is geen reaksie ontvang nie.

Die stadionbestuurder, Boswa Boikanyo, het geweier om kommentaar te lewer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button