Hulle gee my ‘n kompleks as ‘n agtergeblewene
‘n Mens kan hulle beskou as buitestanders van die menslike ras. Hulle is mense soos ek en jy. Tussen ander mense gaan jy hulle nie uitken nie, maar gee hom ‘n rekenaar wat wriemel met foute dan onttrek hulle in ‘n wêreld van hulle eie. ’n Wêreld wat beskore is net vir mense wat ‘n …
‘n Mens kan hulle beskou as buitestanders van die menslike ras. Hulle is mense soos ek en jy. Tussen ander mense gaan jy hulle nie uitken nie, maar gee hom ‘n rekenaar wat wriemel met foute dan onttrek hulle in ‘n wêreld van hulle eie. ’n Wêreld wat beskore is net vir mense wat ‘n ander soort kinkel in die kop het.
Nou die dag ‘n probleem met my rekenaar gehad. Alles het net eensklaps van die skerm verdwyn. Deur die nag het ek geswoeg om met my beperkte kennis alles te probeer om die ding weer aan die gang te kry, maar kon geen duik in die botheid van die ding maak nie.
Ten einde van raad besluit ek vroegdag om die rekenaar na ‘n onderneming met rekenaar ‘fundies’ te vat. Omdat dit dringend was dat ek die rekenaar sou gou moontlik moes terugkry het ek bygestaan. Geduldig het die tegnikus (ek weet nie of n mens hom so kan noem nie) na my storie van wanhopige pogings geluister en of dit nou ‘n glinster van amusantheid of simpatie in sy oë was, weet ek nie. Ewenwel, toe hy die rekenaar onder hande neem het ek vir die eerste keer besef wat ‘n nerd of ‘n geek is.
Dit was asof hy hom sigbaar van my en alles om hom onttrek het. Hy het iets gedoen of iets gedruk, so vinnig dat ek dit glad nie kon sien wat dit is nie, maar die groen skerm het skielik lewe gekry. Sy vingers het soos ‘n wafferse klavierspeler oor sleutelbord rondgefladder en toe die eerste skerm met ritse kolomme verskyn was daar van sy kant net ‘n knorgeluid van satisfaksie.
Hy het skaars daarna gekyk, iets in getik en woeps, weg was dit. Toe die skerm weer opflikker met ‘n groenstrepie wat aangroei het hy nie eers gewag nie, net twee knorgeluide gegee, weer ‘n toets gedruk en skielik was daar ‘n hele rits vreemde goed op die rekenaar wat ek nog nooit gesien het nie. Drie knorgeluide.
So het die rekenaar skerm kort-kort verander en ek het gou agtergekom dat een knorgeluid beteken, ‘ons is nog nie daar nie’ twee knorgeluide beteken, ‘ons maak vordering,’ drie knorgeluide, ‘ja, ons het een van die probleme opgelos’ So het ‘n uur verby gegaan.
Die tweede uur het ook leeg geloop en met sy gefokusde konsentrasie om meer as 30 000 foute reg te stel (nooit geweet dat ‘n rekenaar soveel foute kan hê nie) het dit duidelik geword dat dit nie net sommer ‘n aksie is om ‘n ander ou se rekenaar reg te maak nie, maar dat die nulle en ene vir hom ‘n kruistog van oorwinnings was; dat die oplossing van ‘n probleem vir hom meer boei as wat enige sewe keer bekroonde Oscar treffer fliek enige normale ou sal boei.
Met my bykomende steungeluide van blye verwagting as dinge gelyk het dat dit nou reg is, maar tog nie so was nie, het die rekenaar op langelaas wel reggekom. Dit is met die grootste blymoedigheid en dankbaarheid wat ek die rekenaar betaal het, maar ek het besluit, ek hou nie van sulke mense nie, want hulle gee my ‘n kompleks as ‘n agtergeblewene.
