Sport

Periodisering stel Waterkloof leerlinge bloot aan top sportprogram

Groot opgewondenheid heers by die Hoërskool Waterkloof oor die nuwe program wat by dié skool geïmplimenteer is om leerlinge op ’n gesonde basis te kondisioneer vir die sportseisoen.

Periodisering of “Periodization”, soos dit wêreldwyd bekendstaan, word lank reeds gebruik om top sportsterre te help en nou het kundige personeel by dié skool ook ’n soortgelyke program uitgewerk om leerlinge by te staan met hul beplanning.

Alle sportafrigters by die skool het ingekoop by hierdie program en saam met die hulp van die skool se sportburo sal sportpresteerders by die skool die bystand van kundiges kan geniet soortgelyk aan die beste hoëprestasiesentrums in die land.

Leerlinge se mediese rekords kan dus noukeurig bygehou word en daarvolgens word oefenprogramme uitgewerk. Die skool beskik nie net oor die kundige personeel nie, maar ook oor al die toerusting om sportsterre te toets en dan op die regte program te plaas wat relevant is ten opsigte van die sportsoorte wat die leerling aan deelneem.

Die beginsel van periodisering handel hoofsaaklik oor die bestuur van atlete en sportmanne se program om hulle fisiek gereed te kry vir elke seisoen. Volgens Waterkloof se hoof atletiekorganiseerder, Kobus Schoeman, sal hierdie nuwe program byvoorbeeld verhoed dat seuns en dogters wat top atlete is en ook aan wintersportsoorte deelneem, nie gereed is vir vinnig veranderende seisoene en dan ernstig beserings opdoen nie.

Volgens die program word elke sportman/vrou as individu behandel en ’n unieke dieet- en oefenprogram word vir die persoon ontwikkel.

Positiewe resultate is reeds behaal met leerlinge wat in die verlede met kroniese beserings gesukkel het.

Volgens Schoeman is een van die voordele van die program ook dat leerlinge nie met steroïdes kan eksperimenteer nie, omdat die program dit onmiddellik sal uitwys.

Die sportburo van die skool nooi top sportpresteerders van laerskole wat belangstel om deel te word van die program om nou reeds getoets te word, sodat hul leefstyl vanaf graad agt reeds aangepas kan word by die nuwe periodisering program.

Belangstellendes kan die skool se sportburo kontak vir meer besonderhede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button