Boksdeurbraak bring wêreldtitel gevegte na Pretoria
Real Steel Promosies het verlede jaar belowe om nie net boks weer op top vlak na ondersteuners in Pretoria te bring nie, maar ook ‘n poging aan te wend om die geloofwaardigheid van dié sport met hul integriteit te herstel. Toe was daar baie skeptici wat ‘n ‘sien-is-glo’-houding ingeneem het, omdat boks vir langer as …
Real Steel Promosies het verlede jaar belowe om nie net boks weer op top vlak na ondersteuners in Pretoria te bring nie, maar ook ‘n poging aan te wend om die geloofwaardigheid van dié sport met hul integriteit te herstel. Toe was daar baie skeptici wat ‘n ‘sien-is-glo’-houding ingeneem het, omdat boks vir langer as twee dekades afgetakel is deur geldgierige kansvatters, wanadministrasie en politiek. In September verlede jaar het Real Steel Promosies hul veldtog begin met ‘n groot toernooi in die Heartfelt Arena oorkant die Voortrekkermonument, waar top internasionale boksers in aksie was. By hierdie toernooi het Pretoria se eie Danie Venter ook die stad se eerste wêreldkampioen in tien jaar geword sedert Corrie Sanders vir Wladimer Klitschko in 2003 uitgeslaan het om die Wêreld Boksraad (WBC) se swaargewigtitel te verower. Venter het daardie aand die Wêreld Boks- federasie (WBF) se junior swaargewigkampioen geword toe hy Shawn Cox van Barbados in die eerste rondte uitgeslaan het. Intussen het Real Steel Promosies groot deurbrake in die bokswêreld gemaak. Hulle het ‘n ooreenkoms met die WBF en die Internasionale Boksfederasie (IBF) aangegaan om wêreldtitelgevegte namens hulle aan te bied. Met die hulp van Real Steel Promosies is dr. Mathews Phosa, voormalige premier van Mpumalanga en self ‘n groot boksentoesias, as erepresident van die WBF aangestel. Hierdie verwikkeling het weer ander deure vir Real Steal Promosies oopgemaak, wat hulle verlede week in staat kon stel om die volgende groot bokstoernooi vir Pretoria bekend te stel. Dié toernooi sal op Vrydag, 6 Junie vanjaar in die Rembrandt-saal by die Universiteit van Pretoria se sportkampus plaasvind. Real Steel Promosies se Pieter de Wet het ook bevestig dat verskeie borge intussen by die groep betrokke geraak het en dat ‘n ooreenkoms reeds onderteken is met SuperSport om die toernooi van 6 Junie regstreeks uit te saai. Die toernooi sal aan Pretorianers die geleentheid bied om op een aand vier wêreldtitelgevegte te sien, terwyl Suid-Afrika se heel beste junior swaargewigte op een aand in aksie sal wees. Danie Venter sal op hierdie toernooi sy wêreldtitel die eerste keer verdedig teen Santander Silgado van Colombië, wat tans die Suid-Amerikaanse junior swaargewigkampioen is. Die wenner van die Super Agt-toernooi in 2012, Thabiso Mchunu, wat ook die huidige junior swaargewigkampioen van Afrika is, sal teen die Britse junior swaargewigkampioen, Matty Askin, veg om die IBF se wêreldtitel. Die derde junior swaargewiggeveg van die aand beloof om die vonke te laat spat as gebeure op die bekendstelling van die toernooi in ag geneem word. Die Suid-Afrikaanse junior swaargewigkampioen en houer van die WBF se internasionale titel, Daniël Bruwer, sal daardie aand in die kryt klim teen die jong bokssensasie en gewese professionele rugbyspeler, Kevin Lerena. Hy is tans die WBF se kontinentale kampioen. Dié twee manne lyk lus vir mekaar en by die bekendstelling van die toernooi het hulle reeds met hul sielkundige aanslag op mekaar begin. Die ander internasionale geveg sal tussen Malcholm Klaassen en Jasper Seroka in die junior liggewigafdeling plaasvind, waar hulle ook om die IBF se wêreldtitel sal boks. Een van die bonusse vir boksliefhebbers by dié toernooi sal die teenwoordigheid van Evander Holyfield wees. Hy sal die toernooi bywoon as ‘n ambassadeur van die WBF. Navrae: Pieter de Wet by 076-760-3883.
