Bekende sportfotograaf skielik oorlede
’n Baie gewilde sportfotograaf van Pretoria, wat veral bekendheid verwerf het vir sy rugbyfoto’s, is die afgelope naweek skielik oorlede na ‘n kort siekbed.

Een van Pretoria se bekende rugbyfotograwe, Konrad Jansen van Rensburgh, is die afgelope naweek skielik oorlede.
Dié gewilde sportfotograaf, wat veral bekendheid verwerf het in rugbygeledere in Pretoria, was ’n asmalyer en is verlede week behandel vir asmatiese brongites. Sondagoggend het ’n familielid besluit om hom hospitaal toe te neem toe sy toestand vererger. Hy het egter kort daarna inmekaargestort en gesterf.
Hy was 64 en sou later vandeesmaand 65 jaar oud geword het. Hoewel sy simptome met dié van Covid-19 pasiënte ooreenstem, is dit nie bekend of hy wel amptelik positief vir die virus getoets het nie.
Konrad Jansen van Rensburgh en sy kamera was vir jare ’n bekende gesig langs die veld by provinsiale-, klub- en skole rugbywedstryde in Pretoria. Hy het ook gereeld tydens oefeninge van die Blou Bulle en ander provinsiale spanne foto’s geneem.
Jansen van Rensburgh is in die Oos-Kaap gebore en hy het sy skoolloopbaan aan die bekende St. Andrew’s College in Grahamstad voltooi. Daarna het hy aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer.
Voordat hy homself jare gelede voltyds op sy loopbaan as fotograaf begin toespits het, was Jansen van Rensburgh as projekbestuurder in diens van Siemens en later Vodacom. Hy was vroeër ook ’n ywerige pad-atleet, wat aan verskeie ultra marathons deelgeneem het.
Jansen van Rensburgh het as vryskut fotograaf gewerk en sy foto’s is in verskeie publikasies in die gedrukte media, sowel as aanlyn verskyn. Rekord het ook in die verlede van sy foto’s gepubliseer.
Dié baie gewilde fotograaf was oral geliefd en het oor die jare vriendskapsbande gebou met honderde jong rugbyspelers en hul families, asook met administrateurs en skeidsregters. Hy het nie net aksiefoto’s geneem nie, maar het oor die jare ook ’n reuse biblioteek van sosiale foto’s van junior- en senior provinsiale spelers, sowel as klubspelers en administrateurs opgebou.
Teen druktyd was geen begrafnisreëlings nog bekend nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
