Carltonbekertoernooi word wedloop tussen drie spanne
Centurion se rugbyspan het die afgelope naweek hul goeie rekord teen Tukkies op hul tuisveld gestand gedoen toe hulle in die tweede helfte teruggeveg het om ’n gelykop-uitslag af te dwing.
Hoewel daar nog baie rugby gespeel moet word in vanjaar se Carltonbeker toernooi, word dit al hoe duideliker dat die stryd om die kampioen te bepaal basies ’n resies tussen drie perde is.
Centurion het die afgelope naweek hul goeie rekord teen Tukkies op hul tuisveld behou met ’n puik vertoning teen die studente en weer gewys dat hulle vanjaar ernstige kandidate in die toernooi is. In die mini-toernooi tussen die top drie Carltonbeker spanne en Rustenburg Impala het Polisie uiteindelik daarin geslaag om die houvas wat die Noordwesters op hulle gehad het, te breek.
* Die wedstryd tussen Centurion en Tukkies het puik rugby opgelewer en die gelykop-uitslag van 36-elk was waarskynlik ’n baie getroue weergawe van die spel. Dit was ’n stryd tussen twee spanne met totaal verskillende style, wat aan die fynproewers genoeg aksie sou verskaf om alle aspekte van die spel te waardeer.
Centurion het van die begin af die vaste fasette, met die klem op die vaste skrums, oorheers. Tukkies se kragtige loskopstut, Justin Forwood, wat net op grond van sy skrumwerk alleen waarskynlik vanjaar al ’n kans in die Blou Bulle se Curriebekerspan verdien, het sy span in die eerste helfte in die skrums staande gehou. Toe hy egter later vervang is, het Tukkies erg begin sukkel en dis juis híér waar hulle uiteindelik die oorwinning vir ’n gelykop uitslag moes verruil toe Centurion hulle in die laaste paar minute aan flarde geskrum het en punte versamel het deur middel van strafdoele.
Tukkies se redding was hul besondere vermoeë om uit hul teenstanders se foute munt te slaan en die bal dan vinnig na die punte te versprei, waarna hul blitsige buite-agterspelers die afrondingswerk kan doen. Albei die studente se twee drieë in die eerste helfte is op hierdie manier teen die verloop van die spel met langafstand-bewegings gedruk.
Centurion het in die tweede helfte met ’n groot aanslag teruggekom in die wedstryd en nadat hul flank, Albert Bakker, die gelykmakende drie gedruk het, het die telbord wipplank gery tot teen die einde.
Tukkies se twee drieë vanaf lynstaan-dryfbewegings – een van hul afrigter, Pote Human, se sterkpunte – het hulle telkens weer laat voorloop, maar Stanley Twiname se skopvoet het teen die einde die laaste sê gehad en sy vier strafdoele het Tukkies se meerderheid drieë uitgekanselleer.
* Oostelikes se volpunte-oorwinning van 34-27 teen TUT het verseker dat hulle steeds op koers is om die vierde span in die uitspeelrondtes van vanjaar se Carltonbekerreeks te wees. Hulle is nou sewe punte voor Harlequins, hul vernaamste uitdager vir die vierde plek op die puntelys. Laasgenoemde, wat die afgelope naweek ’n loslootjie gehad het, het egter een wedstryd minder as Oostelikes gespeel en kan dié gaping dus nog laat krimp.
Hoewel TUT ook danksy die skopvoet van Philip Snyman kon byhou en ’n bonuspunt kon verdien nadat hulle met net sewe punte verloor het, word Oostelikes se oorheersing bewys deur die feit dat hulle vyf drieë teen TUT se drie kon druk.
* Polisie het hul taai stryd teen Impala met 26-22 gewen. Die Bobbies het vier drieë teen die manne van Noordwes se drie gedruk. Polisie sal boonop baie selfvertroue put uit hierdie oorwinning, aangesien hulle nie op vol sterkte was nie.
* Eerskomende naweek sal die krag van die twee top kandidate vir die vierde plek op die Carltonbeker puntelys getoets word wanneer Oostelikes die Bobbies op laasgenoemde se tuisveld in Groenkloof aandurf, terwyl Harlequins suid moet reis om Centurion op hul tuisveld in die skadu van die Gautrein se spoorlyn aan te durf. Naka Bulle, wat die afgelope naweek gerus het, besoek Tukkies op laasgenoemde se tuisveld vir die naweek se derde wedstryd.
Eersteliga
Die Dragons het die afgelope naweek hul posisie bo-aan die punteleer in die Blou Bulle se eersteliga verstewig toe hulle Eersterust met 27-15 in ’n taai wedstryd geklop het. Dié span van Montana is nog onoorwonne in vanjaar se ligawedsteyde.
Die ander span noord van die Magaliesberg, Noordelikes, klou nog vas aan hul vierde plek op die puntelys, nadat hulle Bronkhorstspruit die afgelope naweek naelskraaps met 12-8 geklop het.
Die ander twee spanne wat tans lyk na kandidate vir die uitspeelrondtes, Korrektiewe Dienste en Tuine se Grizzlies, het ook hul onderskeie tweede en derde plekke op die punteleer bevestig met oorwinnings teen Brits en Atteridgeville. Korrektiewe Dienste het Brits met 40-21 verslaan, terwyl Tuine vir Atteridgeville met 29-10 pak gegee het.
