Local sportSchool sportSport

Sensasionele terugvegpoging laat Garsies kwalifiseer vir Beeldtrofee eindstryd

Garsfontein se eerste rugbyspan het Dinsdagaand op hul tuisweld ’n moderne wonderwerk verrig deur ’n agterstand van 26 punte binne 12 minute uit te wis om Monument in die halfeindstryd van die Beeldtrofee toernooi vir makro skole te klop.

Die Hoërskool Garsfontein het Dinsdagmiddag op sensasionele wyse gekwalifiseer vir eerskomende Saterdag se eindstryd in die Beeldtrofee se afdeling vir makro skole toe hulle Monument van Krugersdorp in die halfeindstryd met 39-36 geklop het.

Teen vyfuur Dinsdagmiddag was tonele van totale euforie oral op Garsfontein se skoolterrein sigbaar. Almal het mekaar omhels en breë glimlagte is afgewissel met uitroepe van vreugde en ongeloof.

Ongeloof, ja, want ’n halfuur tevore het nie ’n enkele ondersteuner van Garsfontein gedink dat ’n oorwinning hul span beskore sou wees nie. Trouens, toe Monument na tien minute in die tweede helfte hul vyfde drie druk, het die meeste ondersteueners van Garsfontein aanvaar hulle sou verloor. Toe Monument se losskakel nog ’n paar minute later ’n skepdoel deur die pale jaag om die telling op 36-10 in die guns van die Krugersdorpers te laat staan, was die koeël volgens al Garsfontein se ondersteuners deur die kerk.

Tot op daardie stadium het Monument die wedstryd oorheers en dit het gelyk of Garsfontein eenvoudig net nie opgewasse is vir die groter pak voorspelers van dié Wesranders nie.

Dit was egter wéér die briljantheid van Garsfontein se Suid-Afrikaanse skole skrumskakel, Embrose Papier, wat die vonk verskaf het om een van die merkwaardigste terugvegpogings in die geskiedenis van hierdie prestigeryke skolereeks te begin. ’n Breekslag van Papier, diep in sy eie speelgebied, het sowat 12 minute voor die eindfluitjie gelei tot ’n skitterdrie deur sy Suid-Afrikaanse Skole spanmaat, Abner van Reenen.

Dié drie het waarskynlik vir die Garsie-ondersteuners na ’n welkome troosdrie gelyk, maar toe Clayton Africa drie minute later oorgaan vir sy eerste drie, het daar ’n vreemde opgewondenheid onder die toeskouers posgevat.

Presies drie minute na Africa se drie het die Garsies wéér gaan druk nadat hulle die bal skielik byna roekeloos begin rondgooi het en uit elke hoek van die veld aangeval het. Ongelukkig was die doelskop van dié drie mis, wat die punteverskil op 7 te staan laat kom het. Daar was letterlik net vier minute speeltyd oor, maar Garsfontein het bloed geruik en waarskynlik gedink dat hulle ’n kans sou staan in ekstra tyd as hulle weer sou kon druk en die telling gelykop kon laat eindig.

Teen daardie tyd was die swaar voorspelers van Monument se voete vol lood en Gardies het hul wilde aanvallende spel voortgesit. Nog drie minute later het die ‘onmoontllike’ waar geword toe Africa oorduik vir sy span se vierde drie in 12 minute. Die doelskop was oor en die telling gelykop.

Monnas se kaptein het sy manne probeer aanpraat, maar aan hul lyftaal was dit duidelik dat hulle aan bomskok of iets ly. Monnas se losskakel het probeer om die afskop vir Garsfontein so moeilik as moontlik te maak, maar hulle het dadelik weer aangeval en tot op hul eie kwartlyn gevorder. Toe gebeur dit: Met een minuut se speeltyd oor skiet die skeidsregter (wat die wedstryd puik hanteer het) se arm op om Monnas vir onkantspel te straf.

Garsfontein se losskakel, JP Wegner, het koelkop gebly en die strafdoel suksesvol deur die pale gestuur. Toe die skeidsregter sy eindfluitjie hierna blaas het sommige van Garsfontein se ondersteuners vir ’n oomblik in ongeloof bly staan en wonder of dit wat hulle so pas beleef het werklik gebeur het. Toe bars daar euforiese tonele van vreugde oral op die paviljen, in die BBP-lokaal en op die veld uit. Elkeen wat dit beleef het het gewéét dat hulle sopas iets gesien het wat bittermin mense ooit in ’n leeftyd eerstehands kan aanskou.

Verlede seisoen het Garsfontein ook die Beeldtrofee eindstryd gehaal, maar hulle het op hartverskeurende wyse met een punt (20-19) teen Nelspruit verloor. Dis ironies dat hul span van 2015 aanvanklik nie op dieselfde standaard as die span van 2014 geag is nie. Ná hul vertoning van Dinsdagmiddag behoort Garsfontein die gunstelinge te wees om eerskomende Saterdag op hul tuisveld met HTS Middelburg af te reken in die eindstryd en sodoende die eerste keer in die skool se geskiedenis die Beeldtrofee in te palm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button