Garsfontein spog eersdaags met splinternuwe Astro-hokkiebaan
Groot opgewondenheid heers onder Hoërskool Garsfontein se hokkiespelers en -administrateurs, aangesien die skool se eie Astro-hokkiebaan eersdaags voltooi sal wees.
Soos by baie ander top skole in Pretoria is hokkie ook by Hoërskool Garsfontein een van die sogenaamde “groot vyf” sportsoorte waaraan leerlinge in die kleure van hul skool kan deelneem.
Onder leiding van Jeanie Pienaar (dogters hokkiedirekteur) en Stew Dunbar (seunshokkie direkteur) en verskeie ander top afrigters is dié skool se hokkieprestasies die afgelope tyd na ’n hoogtepunt uitgebrei. Pienaar het baie jare se ervaring as speler, afrigter, keurder en administrateur. Sy was al op verskillende vlakke as administrateuer en keurder by die spel betrokke en is tans nog op skolevlak ’n provinsiale en nasionale keurder. Dunbar het ook as keurder sy merk gemaak, maar dit was veral as afrigter dat hy op verskeie vlakke met van die land se beste spelers gewerk het. Hy het as speler ook self provinsiale hokkie gespeel.
By Garsfontein word daar op die hokkiefront voorsiening gemaak vir 13 dogterspanne en 10 seunspanne. Behalwe vir belangrike vriendskaplike wedstryde, wat soms teen top skole gereël word, speel dié skool se hokkiespelers ook in een seisoen in kompetisies soos die Tuksreeks (Super 16), die Stadsbeker toernooi (slegs dogters), die plaaslike top liga (groot skole A-liga) en die Noordvaal toernooi (seuns).
Om in hierdie kompetisies mededingend te bly en om wedstryde in die kompetisie vir die top spanne aan te bied, het dit deesdae noodsaaklik geword dat die deelnemede skool toegang moet hê tot ’n baan met ’n sintetiese Astro-oppervlak.
Tot dusver het Garsfontein gebruik gemaak van die fasiliteite van Pretoria se twee universiteite, Tukkies en TUT, wanneer hulle sulke topklas wedstryde moes aanbied.
Groot opgewondenheid eers egter tans onder die Garsies se hokkiegemeenskap, want hul jarelange droom van ’n eie Astro hokkieveld met sintetiese oppervlakte is besig om waar te word. Ná goedkeuring deur die skool se bestuursliggaam is daar onlangs aan dié baan begin bou en die skool se hokkiebestuur hoop om dit vanjaar nog met spesiale wedstryde in gebruik te neem.
Volgens Pienaar sal die nuwe Astro-hokkiebaan aan Garsfontein die kans bied om werklik met die heel bestes te kan saamgesels. Met die skool se koshuise wat ook onlangs op die terrein voltooi is, sal die Garsies volgens Pienaar nou hokkietoernooie kan aanbied waar hulle met gemak tot 80 spelers sal kan akkommodeer. Die skool sal ook internasionale spanne kan huisves, aangsien die baan volgens intrnasionale standaarde gebou sal word.
