Klofies kry hul eie Astro hokkiebaan
Hoërskool Waterkloof het die aankondiging van die bou van hul eie sintetiese Astro hokkiebaan verlede week met ’n amptelike sooispit-seremonie gevier.
“Hierdie is ’n goue oomblik vir hokkie in die geskiedenis van Hoërskool Waterkloof.” Só het die direkteur van hokkie by dié skool, Gregg Hesom, verlede week gesê toe hy gaste verwelkom het by die sooispit-seremonie vir ’n Astro sintetiese hokkiebaan op die skool se terrein.
Waterkloof sal dus die nuuste skool word om een van dié belangrike hokkiebane te kry. Dit is algemeen bekend dat daar van skole en klubs verwag word om top ligawedstryde aan te bied op hierdie sintetiese bane en al hoe meer skole werk deesdae na dié doelwit om hul eie Astro hokkiebaan te bou. Skole wat nie oor ’n Astro hokkiebaan beskik nie, moet die ongerief verduur om by een van Pretoria se universiteite of selfs op ander skole se bane te speel as hulle belangrike toernooie of wedstryde aanbied.
Gert Oosthuizen, die anjunk-minister van Sport, was die gasspreker tydens die spooispit-seremonie. Hy het Hoërskool Waterkloof gelukgewens met dié inisiatief en die skool geprys vir hul bekende prestasies in die verlede.
Oosthuizen het ook gesê dat buitelug-hokkie deesdae volgens statistiek die tweede gewildste spansport by die Olimpiese Spele is en dat die sportsoort selfs onder seuns groei by Suid-Afrikaanse skole. Volgens Oosthuizen moet inisiatiewe soos hierdie geprys word en is dit in pas met die regering se beleid om kinders aktief te hou in ’n tyd waarin sport kompeteer met tegnologie, wat kinders van die sportveld af hou. Hy het ook beklemtoon dat navorsing bewys het dat kinders wat aan sport deelneem beter vaar in die akademie as onaktiewe kinders.
Daan Potgieter, hoof van Hoërskool Waterkloof, kon sy trots op dié nuwe verwikkeling ook nie verbloem nie. Potgieter het gesê sy skool skryf deesdae al 23 spanne (dogters én seuns) in vir verskeie hokkieligas en dat die skool ook nou weer groter kan dink ten opsigte van sporttoernooie wat op hul terrein aangebied word. Hy het verskeie rolspelers, onder andere ouers en lede van die skool se beheerliggaam, bedank vir hul aandeel in die verwesenliking van hul hokkie-droom.
Net voordat Oosthuizen die eerste sooi seremonieël gespit het om die bou van die baan te begin het Ulinda Human in ’n emosionele seremonie die “laaste doel” in die doelhok van die ou hokkiebaan geslaan. Human, deesdae ’n onderwyseres by dié skool, was lid van die skool se eerstespan in 1981 en sy het destyds die eerste doel in die hokkiekleuere van Hoërskool Waterkloof geslaan.
