Nuwe rugby-instituut en -akademie bring hoop vir baie
Die nuwe Rugby-Instituut by die Naka Bulle rugbyklub wil nie net top spelers oplewer nie, maar ook hul studente só as mense ontwikkel dat hulle gereed sal wees om leiers in die samelewing te word.
As dit van die bestuur van die nuwe internasionale Rugby-akademie by die Naka Bulle rugbyklub afhang, gaan klubrugby in Pretoria nooit weer dieselfde wees nie.
Groot opgewondenheid heers tans by dié klub in Meyerstraat, Wonderboon-Suid, oor dié nuwe iniasitief wat met die hulp van borge op die been gebring is. Die bestuur van dié nuwe akademie glo dat hulle nie net ’n invloed op klubrugby kan uitoefen nie, maar dat hulle ook spelers sal oplewer wat groter hoogtes kan bereik. Hierdie droom is gladnie vergesog nie, aangesien die twee manne aan die stuur van sake by die nuwe Internasionale Rugbyinstituut van Naka Bulle, Marinus van der Watt en Neels Grobler, hulself reeds in dié opsig bewys het.
Die rugby-akademie sal deur ’n onafhanklike rugbyinstituut, in samewerking met die Naka Bulle rugbyklub bedryf word, terwyl daar terselfdertyd ook ’n afrigtingsinstituut op die been gebring sal word. Hierdie nuwe inisiatief behoort ’n eerste vir Pretoria te wees en daar is veral opgewondenheid in die Moot en Noorde van Pretoria vir wat dié ontwikkeling vir rugby in daardie gebiede kan beteken.
Die nuwe instituut sal aanvanklik bestuur word deur dié twee ervare manne, wat albei ’n lang pad geloop het in rugbyafrigting, rugbyadministrasie en die bestuur van die voormalige Tuks/Bloubul rugbyakademie.
Met ’n rugby CV soos dié van Marinus van der Watt kan hy maklik kwalifiseer om ’n top provinsiale span af te rig. Van der Watt sal aan die hoof staan van die nuwe instituut by Naka Bulle. Hy het, onder andere, al spanne soos die Blou Bulle se amateurspan, die Blou Bulle se Sewesrugby-span en die Limpopo Blou Bulle se juniors op provinsiale vlak afgerig, terwyl hy ook hoofafrigter van Tukkies se eerstespan was. Onder sy afrigting het Tukkies tweemaal die Carltonbeker gewen, asook die halfeindrondte van die Varsitybeker toernooi gehaal.
Neels Grobler kom ’n lang pad saam met Van der Watt en behalwe vir die feit dat hy ’n puik bemarker is, het Grobler al groot sukses behaal as talentjagter. Verskeie spelers wat nié op skool raakgesien is of Cravenweek rugby gespeel het nie, is deur Grobler gewerf vir die gewese Tukkies akademie, vanwaar hulle geleenthede aangegryp het en groot naam gemaak het. Manne soos Torsten van Jaarsveld (Cheetahs en Namibië wêreldbekerspan), Johan van Heerden (Pumas, Griffons en Romenië wêreldbekerspan), Niku Kruger (VSA wêreldbekerspan), Franco Mostert (Leeus SuperRugby) en Warwick Tecklenburg (Leeus SuperRugby) is almal produkte van Grobler en Van der Watt se werk. Byna 30 spelers wat deur hulle hande is, het later op Curriebeker vlak rugby gespeel.
Van der Watt het aan Rekord gesê die hoofdoel van hul akademie by Naka Bulle sal wees om geleenthede te skep vir spelers, terwyl groot klem gelê sal word op die ontwikkeling van die speler as mens. Daarom wil hulle nie die akademie op ’n worsmasjien-beginsel bedryf nie. Aanvanklik sal daar dus nie meer as 40 studente ingeneem word nie, omdat persoonlike aandag belangrik is. “Al word die speler nie ’n professionele rugbyspeler as ons met hom klaar is nie, moet hy ’n beter mens hier uitstap. Hier mag hy nooit net ’n nommer wees nie”, het Van der Watt gesê.
Hulle sal in die eerste jaar, saam met die rugby, ook veral aandag gee aan sake soos die ontwikkeling van die speler se karakter en dissipline, asook beroepsleiding. “Na die eerste jaar moet die student weet wie hy is en waarheen hy op pad is. Daarna sal ons hom help om ’n studierigting te kies as hy wil gaan studeer of selfs om vir ’n ambag in te skryf”, het Van der Watt gesê.
Die hoogs suksesvolle Mustang akademie, wat vanjaar die Blou Bulle se o.20 kampioenspan opgelewer het, sal ook hul kragte met die nuwe akademie van Naka Bulle saamsnoer.
Soos die Mustang akademie wil die nuwe Naka Bulle akademie ook rugby gebruik om “soliede mense” te ontwikkel, het Grobler verduidelik. Behalwe dat ’n student meer oor rugby as spel, afrigting, skeidsregterskap en ander aspekte leer, moet hy ook voorberei word vir die beroepswêreld en die lewe na rugby.
Navrae: Neels Grobler by 082-968-7734.
