Pretoria Polisie rugbyklub gereed vir nuwe uitdagings
Pretoria Polisie rugbyklub is gereed om die nuwe uitdagings aan te durf van ’n stelsel waar klubrugby al hoe meer professioneel word.
As elke rugbyklub in Pretoria met dieselfde passie en professionele aanslag as die Bobbies bestuur sou word, kan daar geen twyfel wees dat die Blou Bulle se Carltonliga loshande die sterkste klubliga in die land sou wees nie.
Die dae toe Polisie se top drie o.20 spanne byna regdeur uit Cravenweekspelers van die vorige twee jaar bestaan het, is vir ewig verby. Daardie jare was die Pretoria Polisie rugbyklub bederf deur die feit dat honderde jong rugbyspelers jaarliks in twee groepe vir ses maande elk by die Polisiekollege in Pretoria-Wes aangemeld het.
Dinge het drasties verander, maar ’n paar hardebaarde van rugbyadministrasie wat getrou gebly het aan die klub, was daarvoor verantwoordelik dat Polisie steeds landwyd as een van die top rugbyklubs gereken word.
Deesdae is die meerderheid van die klub se lede nie meer uniform-manne nie, aangesien Polisie al langer as ’n dekade as “oopklub” bedryf word. Tog kan net Tukkies in Pretoria werklik met Polisie saamgesels as prestasie op die veld in aanmerking kom.
By Polisie rugbyklub se jaarfunksie verlede week was dit weer duidelik waarom hierdie klub so goed presteer. Die kwaliteit van die klub se spelers word maklik deur die kwaliteit van hul administrateurs geëwenaar. Een van die meesterskuiwe van die bestuur van Polisie in die afgelope jaar was om ’n invloedryke rugbyman soos Gert van der Merwe te oortuig om die pos as voorsitter van die klub te aanvaar. Van der Merwe, eienaar van die One-Sport sportbestuur maatskappy en een van die top spelersagente in die bedryf, het aan Rekord gesê dat hy sy invloed beslis sal gebruik om selfs die spelersdiepte van die klub uit te bou. “Jong spelers wil deesdae gouer oorsee gaan speel, veral as hulle nie gou ’n top kontrak in Suid-Afrika kry nie. Ek dink daaraan om van sulke spelers op my boeke te verwag om eers ’n seisoen by Polisie uit te help, voordat hulle groener wyvelde oorsee gaan soek.” Het hy aan Rekord gesê.
Van der Merwe is ’n gekalifiseerde advokaat, wat in sy studiejare vir Tukkies uitgedraf het. Hy het ook Curriebeker en SuperRugby vir die Leeus gespeel, terwyl hy in sy spelersloopbaan ook ’n draai by Ulster in Ierland en Bristol in Engeland gemaak het. Hy het aan Rekord gesê hy het baie ander planne om die administrasie van klubrugby te verbeter. Hy word die eerste voorsitter van Polisie sonder ’n bona fide polisie agtergrond, wat ’n aanduiding is van die professionele rigting waarin klubrugby op pad is. Die beleid is eenvoudig – kry die beste man om die werk te doen, sonder sentimentele vooroordele.
Pretoria Polisie, wat deesdae hul rugby op die velde van die ou Pretoria Rugbyklub speel, het ook hul meriete toekennings vir 2015 aangekondig. Die vuurvreter baljagter flank, Ian van Deventer, is as Speler van die Jaar aangewys. Dié oud leerling van Hoërskool Oos-Moot en gewese lid van die Sharks akademie het vanjaar kookwater rugby gespeel. Gereken teen sy vorm van 2015 sal dié aspirant elektrisiën gladnie ontuis wees in menige unie se Curriebeker spanne nie.
