Ster van Oostelikes rugbyklub sterf skielik
Die skielike dood van ’n jong rugbyspeler van die Oostelikes rugbyklub het die hele rugbygemeenskap van Pretoria geskok.
’n Groot terugslag het klubrugby in Pretoria, en in besonder die Oostelikses rugbyklub getref toe een van hul sterre, Dewald Potgieter, verlede week onverwags oorlede is.
Potgieter (23), wat heelagter vir die klub gespeel het, was vanjaar een van die top driedrukkers in die Carltonbeker liga, terwyl hy ook een van Oostelikes se top puntemakers was.
Dié oud leerling van Hoërskool Garsfontein, het vir die Leipzig klub in Duitsland gespeel in die Europese seisoen. Hy het verlede week tydens ’n wedstryd sleg begin voel en gevra om die veld te verlaat. Langs die veld het hy skielik inmekaargesak en sy bewussyn verloor. Kort daarna het medici in Duitsland agtergekom dat hy bloeding op die brein het, maar hulle kon dit nie stop nie.
Nadat Potgieter gesterf het, is toetse gedoen en daar is uitgevind dat hy akkute leukemia onder lede gehad het. Duiste dokters het aan sy ouers gesê dié aggressiewe kanker het sy breinvesel vernietig en hy sou waarskynlik in elk geval nie meer lank kon leef nie.
Rugby was Potgieter se groot liefde en as hy nie gespeel het nie, het hy as afrigter by die Tygerpoort Laerskool uitgehelp. Hy het onlangs ’n graad in Sportwetenskap aan Tukkies verwerf.
Potgieter word oorleef deur sy ouers, suster (25) en broer (16). Sy pa, Leon, was vanjaar die klubbestuurder van Oostelikes rugbyklub.
