Naka Bulle klop Centurion, Dragons skok Impala
Die nuwelinge in die Carltonbekerreeks, die Dragons, het alweer een van die groottes pak gegee, terwyl Naka Bulle hul neuse voor gekry het in hul wedloop teen Centurion om eerste op die puntelys te bly.
Die Carltonbeker liga se opwinding, spanning en verrassings hou vanjaar net nie op nie en dié toernooi is besig om na ’n baie interessante klimaks te beweeg.
Naka Bulle het met hul bonuspunt-oorwinning oor Centurion die afgelope naweek weer die eerste plek op die punteleer ingeneem, terwyl die Dragons vir die soveelste verrassing hierdie seisoen gesorg het.
* In Meierstraat in Wonderboom-Suid op Naka Bulle se tuisveld het dié span verras deur Centurion redelik maklik met 34-0 te klop. Hulle het ook in die proses vier drieë gaan druk vir ’n bonuspunt, terwyl Centurion uiteraard geen ligapunte verdien het nie.
Met hierdie oorwinning het Naka Bulle weer die voorlopers op die punteleer geword. Hulle het nou 29 ligapunte, terwyl Centurion na die tweede plek afgeskuif het met hul 28 punte.
Die tuisspan het Centurion op hul sterkpunt, hul voorspelers, aangevat en hoewel die stryd aanvanklik taai was, het Naka Bulle stelselmatig die oorhand begin kry. Waar die stryd in die vaste skrums byvoorbeeld aanvanklik baie gelykop was, het Sylvester Booysen en sy manne stelselmatig begin oorheers. Teen die einde van die wedstryd was Centurion ’n paar keer in trurat en Naka Bulle kon aanval met besit vanaf vaskoppe in die skrums.
Agter Naka Bulle se pak het Jean Grobler puik op losskakel gespeel en hy het loshande sy stryd met Centurion se hoogaangeskrewe Gaybrin Smith gewen.
Die oud sewesrugby Springbok, Dirk Dippenaar, het ook ’n groot verskil vir die manne van die Moot gemaak in die middelveld en hy het Centurion se verdedigers harde bene laat kou met sy spoed, krag en vernuf.
Dié twee spanne is nou in ’n spannende stryd gewikkel om bo aan die punteleer te eindig en sodoende die kans te kry om via ’n uitspeelstryd saam met Polisie te kwalifiseer vir die Gouebeker toernooi (voorheen Gemeenskapsbeker) aan die einde van die seisoen.
* Hoewel die Dragons moeilik een van bogenoemde twee spanne op die puntelys sal inhaal, kan hulle reeds hul seisoen as ’n sukses beskou en is hulle beslis ook nog stewig in die wedloop om vir die Carltonbeker halfeindrondte te kwalifiseer.
Die Dragons, wat vanjaar die eerste keer deel is van die Carltonbekerreeks, het vir die soveelste verrassing gesorg toe hulle die sterk span van Rustenburg Impala met 26-14 geklop het. Impala kan wel nie vir die Carltonbeker uitkloprondtes kwalifiseer nie, maar die ligapunte wat teen hulle verwerf is kan goud werd wees vir ’n span soos die Dragons.
Met hul vier drieë teen Impala se twee, het die Dragons natuurlik ook ’n bonuspunt verdien. Dié span, wat onder André Eloff se afrigting al hoe beter speel, het gewys hoe gesond hul strukture is toe hulle boonop skoonskip teen Impala gemaak het met oorwinnings vir die tweedes, derdes, o.21’s en o.20’s.
* Die Dragons se kragtoer het ’n krisis vir Polisie geskep, want dié staatmakers in Bloubul klubrugby het nie ’n goeie seisoen nie. Hulle het Saterdag teen Tukkies hul derde agtereenvolgende nederlaag gely toe die studente hulle met 47-24 geklop het. Tukkies het in die proses sewe keer gaan druk, terwyl Polisie tevrede moes wees met die vuurvreter flank, Ian van Deventer, se twee drieë.
Hoewel Polisie reeds verlede seisoen vir die Gouebeker toernooi gekwalifiseer het, sal hulle alles moet uithaal om ook vir vanjaar se halfeindrondte in die Carltonbeker toernooi te kwalifiseer. Hulle sal moet begin deur eerskomende naweek volpunte te jaag teen Harlequins en daarna wraak te soek teen die Dragons, wat hulle in die eerste rondte geklop het.
* Eerskomende naweek word die Dragons getoets teen die voorlopers, Naka Bulle, op eersgenoemde se tuisveld noord van die Magaliesberg. Polisie gaan kuier oorkant Totiusstraat in Groenkloof by hul bure, Harlequins, terwyl Centurion Hatfield toe sal reis om Tukkies op hul tuisveld by die LC de Villiers sportkompleks aan te durf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.


