Local sportSport

Gestremde hengelaars ruk weer op na Centurion

Dis weer tyd vir die jaarlikse Ramcat Fish hengelkompetisie vir gestremde hengelaars, wat oudergewoonte in Centurion aangebied sal word.

Teen hierdie tyd is die Ramcat organisasie se jaarlikse hengelkompetisie vir gestremde hengelaars reeds een van die hoogtepunte op die sportkalender in Pretoria.

Vanjaar is geen uitsondering nie. Gerard Smal en sy helpers van Ramcat is op 9 September terug by die Irene Coutry Lodge, waar gestremde hengelaars en hul families die geleentheid sal kry om langs die viswaters te ontspan, terwyl die rolstoel-manne en -dames vir aanloklike pryse kompeteer om die grootste vis uit te trek by dié oord se dam.

Smal het aan Rekord gesê dat hulle weer die deelnemers op dié dag bederf met heerlike etes en dat verskeie pryse weer te wen sal wees. Vanjaar gaan die organiseerders ook daarop fokus om persepsies oor hengel af te breek en om die klem op dié gewilde tydverdryf se dieper betekenis te plaas. Hy het gesê hengel word soms net gesien as ’n tydverdryf wat gepaard gaan met jolyt, kuier en sosiale ontspanning.

“Min mense besef egter dat hengel ook ’n wonderdelike vorm van geestelike én fisieke terapie kan wees. Dit leer die hengelaar lewenswaardes soos geloof, geduld en deursettingsvermoë,” het Smal beklemtoon.

In terme van terapie het hy verduidelik dat ontspanning in die natuur langs die water kalmte en rustigheid vir hengelaars bring, terwyl die fisieke ontspaning ook wondere vir enige hengelaar se gestel kan beteken.

“Die gejaagde lewe waaraan ons deesdae blootgestel is kom tot stilstand langs die viswater en die heilsame uitwerking daarvan op liggaam en gees is vanselfsprekend. Daar is boonop geen beter aktiwiteit om aan verhoudings te skaaf as die atmosfeer langs die viswater nie. Dis byvoorbeeld die beste kwaliteit tyd wat ’n pa saam met sy seuns kan deurbring,” het Smal gesê.

Hengel as sodanig het vir Smal ook ’n dieper geestelike betekenis. Hy glo dat daar ’n besondere betekenis is in die feit dat Jesus tydens sy aardse sending juis eerste die eenvoudige vissermanne gaan opsoek het toe Hy sy dissipels versamel het.

“Hengelaars is mense wat die konsep van geloof verstaan. Die hengelaar kan die vis nie sien nie, maar hy weet dat sy prooi daar iewers in die water wag. Die een dag sal hy niks vang nie, maar die volgende dag kom hy in geloof terug en dan is hy suksesvol op dieselfde plek. Die hengelaar is dus afhanklik van sy geloof en as hy die vis uittrek ervaar hy die beloning van sy geloof en die hele voorbereidingsproses wat daarmnee gepaard gegaan het. Die hengelaar leer boonop ook die lewensles dat jy nie sukses kan behaal deur pasief te wees nie. Jy kan nie ’n vis vang sonder ’n lyn in die water nie,” was Smal se byna filosofiese ontleding van die hengelproses.

Enige fisiek gestremde persoon is welkom om aan die Ramcat hengelkompetisie deel te neem. Vriende en familie is egter ook welkom on die dag saam met hul gestremde geliefdes langs die water deur te bring. Vermaak, etes en ’n kontant kroeg sal deur Ramcat beskikbaar gestel word.

Vir meer besonderhede en bespreking kan Gerard Smal geskakel word by 081-754-8144 of kontak hom via epos by ystersmal@gmail.com

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button