Verrassings in Carlton B-liga halfeindstryde
Die Carltonbeker B- en C-ligas se eindstryde vind eerskomende naweek op Loftus Versfeld plaas.
Die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en Korrektiewe Dienste se eerstespanne sal eerskomende Saterdag sake uitspook in die eindstryd van die Carlton B-liga, nadat hulle onderskeidelik met Hartbeespoort en Tuine se Grizzlies afgereken het in die halfeindstryde.
Op ’n dag wat vele verrassings opgelewer het, het Bronkhorstspruit en Transwerk Parke se eerstespanne ook deurgedring na die eindstryd van die Carlton C-liga.
Die Carlton B-liga was voorheen bekend as die Eersteliga, terwyl die C-liga bekendgestaan het as die Presidentsliga.
TUT, die verdedigende kampioen, se oorwinning van 34-19 oor Hartbeespoort was te wagte, aangesien TUT bo aan die punteleer geëindig het en slegs twee wedstryde deur die loop van die seisoen verloor het. Hartbeespoort het vierde op die punteleer geëindig.
Korrektiewe Dienste het egter vriend en vyand verras met hul welverdiende oorwinning van 23-7 oor die Grizzlies van Tuine. Die Grizzlies het ’n puik seisoen beleef en hulle het ook net twee keer verloor in hul 16 ligawedstryde.
In ’n wedstryd wat deurgaans teen ’n baie hoë tempo gespeel is, het Korrektiewe Dienste hul teenstanders egter met tradisionele Likkewane-rugby uitoorlê. Hulle het die vaste fasette oorheers en dít gebruik om momentum op te bou.
Tuine se jong span was eerste uit die bloke en teen rustyd wou dit lyk of hulle die wedstryd redelik maklik sou deurtrek, nadat hulle twee drieë gedruk het om met 14-7 voor te loop.
Korrektiewe Dienste het egter teruggeveg in die tweede helfte. Hulle swaar voorspelers het nié uitgesak soos verwag is nie en hul verdediging was puik. Agter ’n pak voorspelers wat oorheers het, het hul skakelpaar uitgeblink. Skrumskakel Tienie Nel se slim skopwerk het veral baie momentum aan sy span gegee.
Die Grizzlies het hul eie sop sout gemaak met onnodige hanteerfoute, terwyl hul verdediging soms veel te wense oorgelaat het.
* Die grootste verrassing van die dag het gekom toe die nuwe klub in die liga, Baviaanspoort, se tweedespan die Grizzlies met 23-22 uitgeskakel het in die een halfeindstryd. Dit was ’n epise stryd van 100 minute se rugby, wat eers in die tweede helfte van ekstra-tyd in die guns van Baviaanspoort beklink is. Die Grizzlies wat slegs een keer in die liga-fase verloor het, is onkant gevang deur Baviaanspoort se groot aanslag. Baviaanspoort, wat twintig punte onder hul teenstanders op die punteleer geëindig het, het perfekte eindstyd-rugby gespeel. Hulle het die wedstryd inderdaad in die eerste helfte met puik verdediging beklink. Die Grizzlies het ’n groot deel van dié helfte oorheers, maar kon eenvoudig nie die doellyn haal nie.
Baviaanspoort se teenstnder in die eindstryd vir tweede spanne is Korrektiewe Dienste, wat TUT met ’n oorwinning van 23-7 uitgeskakel het.
* Die Grizzlies van Tuine se derde span is dié klub se enigste oorblywende hoop op silwerware in die liga, nadat hulle Korrektiewe Dienste in ’n taai halfeindstryd met 6-0 geklop het. Hulle teenstander in die eindstryd is Cullinan, wat Baviaanspoort met 38-0 oorrompel het.
* In die Carlton C-liga sal Bronkhorstspruit se tweedespan Saterdag teen hul eweknieë van Noordelikes te staan kom in die eindstryd. Die twee span het onderskeidelik met Stansa (27-12) en Transnet Parke (17-10) afgereken in die halfeindstryde.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
