Shimlas klop Tuks in gure reënweer in Pretoria
Shimlas het Tukkies Maandagaand in koue reënweer by die afbreekpunte uitoorlê om hulle op hul tuisveld te verras in die eerste Varsitybeker wedstryd van die seisoen.
Die verdedigende Varsitybeker kampioen, Tukkies, het hul 2018 veldtog in die toernooi begin met ‘n nederlaag teen Shimlas op hul tuisveld in Pretoria toe die Vrystaters hulle met 19-17 geklop het.
Na ‘n paar droeë weke in Pretoria sou niemand seker oor die reën kla wat hier teen afskoptyd van die wedstryd begin uitsak het nie. Die swaar reën het egter gekom saam met ‘n sterk suid-weste wind en die twee spanne se voorbereiding sou waarskynlik nie voorsiening gemaak het vir die gure toestande wat in die eerste helfte geheers het nie.
Tuks se blondekop generaal op losskakel, Tinus de Beer, was egter soos ‘n eend in die nat weer en hy het sommer vroeg die Vrystaters rondgejaag met puik skopwerk in die reën. Sy taktiese skopwerk was skitterend en dis nogal ironies dat twee verbroude doelskoppe van hom uiteindelik die verskil was tussen wen en verloor vir Tukkies.
Die tuisspan het egter in die eerste helfte verskeie kanse om te gaan druk verbrou, terwyl Shimlas letterlik hul enigste kans gebruik het toe linkervleuel Francois Agenbach vyftig meter ver genael het vir ‘n sewepunt drie, wat deur losskakel Lubabalo Dobela verdoel is om nege punte werd te wees.
Daarenteen kon Tuks net een keer druk toe Xolisa Gume in die hoek oor is, maar De Beer het misluk met die moeilike doelskop en die rustyd telling was 9-7 in die guns van die manne uit Bloemfontein.
Die verskil tussen die twee spanne was hul effektiwiteit by die afbreekpunte. Shimlas se briljante losvoorspelers het hulle in die wedstryd gehou en as dit nie vir die wyse was waarop Ben Janse van Vuuren, en Albertus de Bod, asook die woelige haker, Hanno Snyman, gereeld besit vertraag of omgekeer het nie, was Tuks waarskynlik teen rustyd baie verder voor op die telbord.
Na rustyd het die wind effens bedaar en die reën het ook stelselmatig opgeklaar.
Die besoekers het egter bloed geruik met hul voorsprong teen rustyd en hulle het verwoed begin aanval na die afskop. Tuks kon eenvoudig nie al die gate toestop nie en Ben Janse van Vuuren is na vier minute se spel in die tweede skof in die hoekie oor.
Dobela se akkurate skopvoet het gesorg vir nog ‘n doelskop van die kantlyn af, terwyl hy vyf minute later die voorsprong laat rek het na 19-5 met ‘n strafdoel van 50 meter.
Hoewel Tuks die grootste deel van die tweede helfte met die meerderheid balbesit gespog het, kon hulle egter eers twee minute voor die eindfluitjie vir die tweede keer die doellyn haal. Toe senter Toko Seerane oorgeduik het.
De Beer het weer die doelskop verbrou en daarna was dit ‘n wedloop teen tyd. Die horlosie het gewen en hoewel Tukkies na die geloei van die toeter ‘n oorstoot drie gedruk het, was dit té min té laat. De Beer het verdoel, maar Shimlas kon die wedstryd met hul twee punte voorsprong deurtrek.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




