Hoërskool Uitsig lok meer as 30 skole na massa-aflosbyeenkoms
‘n Feestelike atletiek-atmosfeer het geheers by Dinsdag se massa-aflos atletiekbyeenkoms wat oudergewoonte deur Hoërskool Uitsig aangebied is.
Die Hoërskool Uitsig het Dinsdagmiddag hul baie gewilde massa-aflosbyeenkoms vir die 11e jaar agtereenvolgens aangebied.
Die byeenkoms word in samewerking met Tuks se atletiekklub aangebied en het vanjaar ook deel gevorm van TuksAtletiek se eeufeesvieringe.
Met ‘n dekade se ervaring agter die blad van Uitsig se unieke byeenkoms weet baie atletiek-organiseerders by skole reg oor Gauteng, Noordwes en Limpopo reeds dat hierdie ‘n puik geleentheid is om aflosspanne teen top teenstand te slyp vir die komende interhoërbyeenkomste. Daarom het 31 skole vanuit die uithoeke van die drié provinsies weer na die Tuks Atletiekstadion opgeruk om te deel in die aksie.
Hoewel die meeste skole uit Pretoria, Johannesburg en die Oos-Rand afkomstig was, het sommige spanne so ver as Heidelberg (Gauteng), Potchefstroom, Lichtenburg en Tzaneen gereis om deel te neem.
Deelnemende skole is in twee groepe ingedeel, naamlik groot skole en medium skole. In sommige gevalle was daar uiteraard meer as een lopie in ’n spesifieke ouderdomsgroep en byna 50 aflos-items is in die twee en ‘n halwe uur van aksie ingepas.
Die program is begin met vier 4x400m-afloswedlope vir o.19-seuns en meisies van die twee kategorieë. Daarna het die 4x100m-afloswedlope in elke kategorie en ouderdomsgroep gevolg.
Uiteindelik is die program afgesluit met drie spesiale aflosse. Eers was dit tyd vir pret met GrootFM se spesiale aflos waaraan bekende persoonlikhede, omroepers van dié radiostasie en onderwysers van Hoërskool Uitsig deelgeneem het.
Laastens het twee 4x100m-aflosse gevolg waarin uitgesoekte ster-atlete in ‘n solo-poging teen die horlosie betrokke was.
Die kategorie vir groot skole is uiteindelik deur Hoërskool Garsfontein met ‘n totaal van 58 punte gewen. Afrikaans Hoër Seunskool het in dié kategorie die seunsafdeling gewen met 36 punte, terwyl Afrikaans Hoër Meisieskool die beste meisie-span was met 46 punte.
Hoër Volkskool Heidelberg was algeheel die beste medium skool by die byeenkoms. Hulle het 67 punte versamel, terwyl hul seuns ook ander seunspanne met ‘n totaal van 34 punte geklop het. In die afdeling vir meisies by die groot skole het Volkskool Heidelberg en Hoërskool Marais Viljoen van Alberton gelykop geëindig met 33 punte elk.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:









