Amateur boks in Gauteng-Noord skop 2018 vroeg af
Amateur boks in Pretoria geniet vroeg in 2018 reeds nuwe belangstelling en planne is onlangs gemaak om dié sport se gewildheid weer op te bou onder deelnemers en ondersteuners.

Boksklubs in Pretoria het vanjaar reeds vroeg hul vere begin regskud vir die nuwe jaar en groot opgewondenheid heers in boksgeledere oor die hernude belangstelling in dié sport.
Die eerste afrigtingskursus en graderingsgeleentheid van 2018 het onlangs by die Transnet Engineering Boksakademie in Koedoespoort plaasgevind. Agt klubs uit die Gauteng-Noord streek het hierdie geleentheid bygewoon, wat onder die bekwame leiding van ervare boksadministrateurs soos Johan Prinsloo en Moonyean Britz aangebied is.
’n Stewige totaal van 19 boksers is by die geleentheid amptelik gegradeer, terwyl daar ook koppe bymekaar gesit is om die toekoms van amateurboks in Pretoria te bespreek en te beplan.
Volgens ’n woordvoerder van Boks Gauteng-Noord is die bestuur baie tevrede met die nuwe entoesiasme. Die administraise is gesond en die klubs lyk oorgehaal vir aksie, terwyl daar beslis tekens van nuwe belangstelling is.
Intussen is daar besluit om vajaar ’n provinsiale ontwikkelingspan te kies, wat dan deur die beste afrigters onder hande geneem sal word vir intensiewe aandag.
Gauteng-Noord se eerste toernooi word eerskomende Saterdag aangebied deur die HTS Tuine boksklub. Die toernooi sal plaasvind by die klub op die terrein van HTS Tuine in Hannystraat, Tuine. Die aksie sal om 13:00 begin.
Op 23 Maart word ’n Box&Dine toernooi ook by die HTS Tuine klub aangebied. Dié spoggeleentheid waar gaste met ’n heerlike bord kos onthaal word terwyl hulle die boksers in die kryt ondersteun, sal om 19:00 begin. Alle belangstellendes is welkom.
Vir enige navrae oor hierdie twee geleenthede of besprekings van kaartjies kan gedoen word deur Helgard Smit te skakel by 072-574-5041.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

