Tuks heel onder aan Varsitybeker punteleer ná derde agtereenvolgende nederlaag
Die verdedigende Varsitybeker kampioen is diep in die moeilikheid en voordat hulle kan begin dink aan die verdediging van hul titel sal hulle dalk eerder moet probeer om relegasie te ontduik.
Tukkies se Varsitybeker span het Maandagaand in Stellenbosch hul derde agtereenvolgende nederlaag in vanjaar se toernooi gely en ná drie rondtes bevind Denzel Hill en sy manne hulle nou heel onder aan die punteleer.
Maties, wat verlede jaar in die eindstryd deur die Pretorianers geklop is, het die bordjies Maandagaand in die Danie Craven stadion verhang met hul oorwinning van 24-16.
Die tuisspan het twee keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Tukkies slegs een keer kon druk.
‘n Sterk wind het ‘n groot invloed op die uitslag van die wedstryd gehad. Tuks het in die eerste helfte die voordeel van die wind in hul blaaie gehad, maar hulle kon dit nie doeltreffend benut nie. Daarenteen het Maties hul ervaring van winderige toestande gewys deur die bal meestal tussen die voorspelers te hou en sodoende die Pretorianers se kanse te beperk.
Tuks se losskakel en planmaker, Tinus de Beer het een van sy swakste wedstryde nóg in die Varsitybeker toernooi gespeel. Behalwe vir die feit dat hy nie in die eerste helfte daarin kon slaag om die sterk wind optimaal te benut nie, het hy ook ‘n paar onnodige hanteerfoute begaan wat sy span van momentum beroof het.
Die grootste verskil tussen die twee spanne, wat waarskynlik ook die skaal in die Kapenaars se guns geswaai het, was die skrumwerk. Maties het die Pretorianers verwoes in die vaste skrums en dis ironies dat nóg ‘n man wat in Pretoria te lig bevind is, Neethling Fouché, die manne van Stellenbosch se held was in hierdie aspek. Hy het sy ou spanmaat, Andrew Beerwinkel, verniel in die skrums en Maties het met een van hul kragvertonings in dié faset ’n strafdrie afgedwing, wat waarskynlik die skaal in hul guns geswaai het.
Tukkies sal in hierdie opsig vinnig ‘n regrukplan moet maak en die boodskap sal hopelik ook op Loftus Versfeld uitkom dat wedstryde steeds met die dominering van die vaste fasette gewen kan word. Fouché volg in die voetspore van nog ‘n oud Bloubul, Wilco Louw, wat ook in Pretoria te lig bevind is net om later sy klas by die WP en die Stormers te wys en boonop Springbok te word.
Tukkies geniet eerskomende Maandag (19 Februarie) ‘n loslootjie. Hul volgende wedstryd is op 26 Februarie in Kaapstad teen die Ikeys van die Universiteit van Kaapstad, wat tans derde op die punteleer is.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



