Local sportSport

Oud Bloubul Darius Botha oorlede

Dr. Darius Botha, geliefde predikant en oud Bloubul- en Springbok rugbyspeler, is Maandag aan kanker oorlede.

Darius Botha, oud Bloubul- en Springbokvleuel en die broer van rugbylegende Naas, is die afgelope week na ’n lang stryd teen kanker oorlede.

Botha (62), wat tydens sy laaste jare in Roodepoort aan die Wes-Rand gewoon het, het sedert 2014 ’n dapper stryd teen maagkanker gevoer. Na verskeie operasies, waarin ’n deel van sy maag onder andere verwyder is, het hy in so ’n mate herstel dat hy ’n doktorale tesis in teologie kon voltooi. Die kanker het egter verlede jaar weer begin opvlam en dit het uiteindelik die afgelope week Botha se lewe geëis.

Die meeste rugby-entoesiaste en ondersteuners van die Blou Bulle onthou Darius Botha deesdae hoofsaaklik as die broer van die legendariese Naas. Darius was egter in eie reg een van die mees onderskatte vleuels in die annale van Bloubul-rugby.

Tussen 1976 en 1982 het Botha 61 keer in die ligbloutrui van Noord-Transvaal as senter en vleuel uitgedraf. Hy het in vyf Curriebeker– eindstryde vir die Bulle gespeel.

Darius het ’n jaar na sy jonger broer Springbok geword, toe hy gekies is om in 1981 saam met die Springbokspan na Nieu-Seeland te toer. Daar het hy in die eerste toets sy debuut vir sy land gemaak. Dit was egter ook sy enigste toets.

Hy was ’n sterk vleuel wat sy teenstanders kon laat bontstaan met sy kraglopies.

Botha het in 1980 ook vir die Blou Bulle teen die Britse Leeus uitgedraf. Tydens ’n onderhoud enkele jare gelede het Botha aan Rekord gesê dat wedstryde tussen die Blou Bulle en die WP-span van die laat 1970’s en vroeë 1980’s byna so hard soos toetsrugby was.

Hy het egter die Springboktoer na Nieu-Seeland in 1981 uitgesonder en gesê dat geen ander span teen wie hy in sy loopbaan gespeel het met die All Blacks vergelyk kan word nie. Hulle was ongetwyfeld sy taaiste teenstand ooit.

Weens die beroep wat hy gekies het, het Botha op die ouderdom van 27 reeds uit rugby getree. Op daardie stadium was hy reeds ’n veteraan in die Bloubul-span, maar steeds jonk genoeg om maklik meer as 100 wedstryde vir die Blou Bulle te kon speel. Hy het egter verkies om al sy aandag aan sy roeping as predikant te bestee.

Na sy rugbyloopbaan het Botha eers as militêre kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisie gedien, waarna hy verskeie gemeentes in Suid-Afrika en Namibië as predikant bedien het.

Daniël Sarel (Darius) Botha was ’n Pretorianer in murg en been. Hy en sy broer Naas het in die Pretoriase Moot grootgeword, waar hy sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool Eben Swemmer voltooi het en aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd gematrikuleer het. Hulle het albei aan die Universiteit van Pretoria gestudeer.

Hy word oorleef deur sy vrou, Karin, sy seun Derik en dogter Rienie. Darius en Karin se tweeling, Tobie en Carine, is albei op jong ouderdom ook aan kanker oorlede.

Botha se begrafnisdiens sal eerskomende Saterdag (17 Februarie) om 11:00 plaasvind by die NG Kerk Weltevredenpark in Roodepoort. Die straatadres is Corneliusstraat 1140, Weltevredenpark.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button