Menlopark wen Tuks Top 10 atletiekbyeenkoms
Hoërskool Menlopark se prestasie by verlede week se Tuks Top 10 atletiekbyeenkoms dui daarop dat hulle moeilik onntroon gaan word as Pretoria se A-bond interhoër kampioen.
Die Hoërskool Menlopark se atlete het verlede week gewys dat hulle gereed is om hul titel as A-bond kampioen te verdedig.
Menlopark het die spankompetisie by die Tuks Top 10 atletiekbyeenkoms gewen. By dié byeenkoms, wat in die Tuks Atletiekstadion aangebied is, was die meerderheid skole wat eerskomende week aan die A-bond interhoër in die Pilditch stadion gaan deelneem ook teenwoordig.
Die Parkies se span het 10841 punte aangeteken, terwyl Prestige College in die tweede plek was met 10360 punte. Hoërskool Garsfontein was derde met 10288 punte.
Hoewel die byeenkoms as die “Top 10” bekendstaan, het die naam nie betrekking op die hoeveelheid skole wat deelneem nie. Skole het selfs uit Johannesburge en die Oos-Rand, asook ander provinsies soos Noordwes en Mpumalanga gereis om deel te neem.
Daar was inderdaad 117 skole betrokke by die byeenkoms. Die feit dat vier spanne uit die top vyf presteerders verteenwoordig word deur deelnemers van Pretoria se A-bond is ‘n getuienis van die kwaliteit van die stad se skole atletiek.
Die naam van die byeenkoms het te doen met die feit dat die top tien atlete van elke skool se prestasies gebruik word om die wenners te bepaal. Menlopark se totaal kom neer op ‘n gemiddeld van 1084 punte op die ABSA tabel per item, wat inderwaarheid ‘n puik prestasie is en gereken kan word as een van die beste vertonings ooit op hierdie byeenkoms.
Die eerste agt skole het almal gemiddeldes van meer as 1000 punte behaal. Afrikaans Hoër Seunskool (gemiddeld 1031 punte) en Afrikaans Hoër Meisieskool (gemiddled 1002 punte) het onderskeidelik die beste presteer in die afdelings vir seuns en meisies.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




