Naka Bulle reg vir nuwe seisoen se uitdagings
Naka Bulle het ‘n nuwe klubhuis, ‘n reuse nuwe borg en opwindende spelersaanwinste wat hulle laat uitsien na die 2018 seisoen.
Klubrugby betree eerskomende naweek ‘n nuwe era wanneer die eerste wedstryd in die nuwe Superliga op ABE Midas Naka Bulle se velde afgehandel word.
Die tuisspan sal teen Tukkies uitdraf en dié twee klubs sal die enigste wees wat hierdie naweek in aksie is, terwyl die res van die spanne op 3 Maart met hul verpligtinge begin.
Hierdie nuwe Superliga sal oor die grense van drie provinsiale unies beslis word. Ná die vrywillige relegasie van die Dragons, wat intussen met Noordelikes saamgesmelt het, is daar slegs vier senior Carltonbeker klubs in Pretoria oor. Dit is die huidige Carltonbeker kampioen, Quins-Bobbies, Tukkies, ABE Midas Naka Bulle en Centurion. Daar is toe besluit om die Superliga op die been te bring waarin klubs oor provinsiale grense heen op ‘n krag-teen-krag basis kan kompeteer.
Drie van die Valke Rugby-unie se beste klubs, Brakpan, Springs en East Rand United van Reiger Park, asoook die voormalige Nasionale Klubkampioen, Rustenburg Impala uit die geledere van die Luiperds Rugby-unie, sal saam met die vier plaaslike klubs aan die nuwe Superliga deelneem.
Tukkies sal die eerste deel van die nuwe liga met hul tweedebeste span aandurf, aangesien hul Varsitybeker span nog tot einde Maartmaand in dié kompetisie in aksie sal wees.
Daar sal nie vanjaar uitspeelwedstryde wees om die Carltonbeker kampioen te bepaal nie. Die plaaslike klub wat aan die einde van die Superliga die hoogste posisie op die punteleer beklee, sal as wenner van die Carltonbeker aangewys word. Die oopklub wat die hoogste eindig (wat Tukkies dus uitsluit) sal ook aangewys word as die Blou Bulle se kandidaat om aan die nasionale Gouebeker toernooi deel te neem.
ABE Midas Naka Bulle het intussen hul vere reggeskud vir die nuwe seisoen, wat hulle eerskomende Saterdag gaan afskop met ‘n rugbyfees waarin vyf spanne (eerstes, tweedes, derdes, o.21’s en o.20’s) teen Tukkies in aksie sal wees.
Dié rugbykrag van die Moot het verlede week ‘n reuse nuwe borgskap van ABE Midas ontvang. Die bekende André Potgieter se maatskappy sal die klub oor die volgende drie seisoene met ‘n reuse R2,2 miljoen borg, wat ook naamregte vir die klub insluit.
Volgens Potgieter, wat ook al die Blou Bulle Rugby-unie geborg het, wil hulle graag terugploeg in die gemeenskap wat hulle ondersteun en dié rugbyklub in die hartjie van die Moot is die ideale plek om dit te doen.
ABE Midas Naka Bulle se klubhuis is ook in die afseisoen opgegradeer en nuwe vloedligte is langs die speelvelde geïnstaleer.
Ian Herbst, voorsitter van ABE Midas Naka Bulle, het aan Rekord gesê die klub het besef dat hulle moet aanpas by die nuwe bedeling waar top klubs op ‘n semi-professionele grondslag bestuur sal word.
Twee spelers uit die geledere van die Blou Bulle, Marquit September en Kefentse Mahlo oefen ook saam met ABE Midas Naka Bulle se span en hulle sal vir die klub beskikbaar wees.
Marinus van der Watt, Rugby Direkteur van ABE Midas Naka Bulle, wat ook aan die hoof staan van die Internasionale Rugby-Instituut wat aan die klub verbonde is, het gesê dat Naka Bulle in hul 21ste bestaansjaar selfs wil verbeter op verlede seisoen se hoogtepunte, toe hulle die Assupol Klubreeks gewen het en net-net in die Carltonbeker halfeindrondte teen die uiteindelike kampioen, Quins-Bobbies, verloor het.
Van der Watt maak geen geheim daarvan dat sy span vanjaar meer bekers wil wen én hoop om te kwalifiseer vir die Gouebeker toernooi nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
