Local sportSport

Bulls skop 2018 SuperRugby seisoen af met oorwinning teen Hurricanes op Loftus Versfeld

John Mitchell se Bulls het hul 2018 SupeRugby-seisoen met ‘n indrukwekkende oorwinning oor die Hurricanes op Loftus Versfeld begin.

Die Bulls het gewys dat hulle ernstig is om weer ’n wenspan te word in 2018 toe hulle die seisoen Saterdag op Loftus Versfeld begin het met ’n oorwinning van 21-19 teen die Hurricanes van Nieu-Seeland.

Die tuisspan het die oë laat rek en hul ondersteuners visioene laat sien van hul span was soos ’n spreekwoordelike feniks uit die as herrys toe hulle van die afskop af die bal lug gegee het en die besoekers laat skarrel het op die verdediging.

Drie minute na die afskop is die Bulls se linkervleuel, Johnny Kotze, in die hoekie oor en die Hurricanes se spelers het gelyk of hulle nie mooi weet wat hulle getref het nie.

Soos ‘n mens egter kan verwag van ‘n top span uit Nieu-Seeland, het Brad Shields en sy manne hulself gou reggeruk en kort voor lank was dit die Bulls wat moes bontstaan op die verdediging.

Nadat Handré Pollard geslaag het met ’n stradoel, het die manne uit Wellington ’n groot deel van die eerste helfte oorheers. Hulle het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Eers is haker Ricky Ricctelli oor, maar dit was veral die verspot-maklike manier waarop linkervleuel en Suid-Afrikaans gebore Wes Goosen die Bulle se verdediging geklop het, wat die twyfel weer by die Bulls se ondersteuners sou laat posvat.

Toe Pierre Schoeman ’n kwartier voor die eindfluitjie nog in ’n geelkaart vaskyk nadat hy ’n speler met ’n stywe arm bygekom het, het Bulls- ondersteuners se moed in hul skoene gesak.

Die manne in Blou het egter vasgebyt en teen rustyd was hulle 16-12 voor, nadat Lood de Jager ’n skouspelagtige drie gedruk het terwyl die Hurricanes ’n ekstra-man voordeel gehad het.

Hoewel die Hurricanes vroeg in die tweede helfte oorgenoeg kanse gehad het om terug te kom in die wedstryd, het die Bulls se verdediging gehou. Dit was eers toe die All Black-superster, Beauden Barrett, op die veld verskyn dat die besoekers weer die doellyn kon haal. Barrett het ’n puik beweging afgerond en Ihaia West se doelskop het die Nieu-Seelanders se neuse voor gekry op die telbord.

John Mitchell se manne het egter vasgebyt en gewys dat hul praatjies oor ’n goeie voorseisoen nie net praatjies was nie. Hul fiksheid het beïndruk toe Pierre Schoeman in die 74e minuut oor die doellyn is ná ’n beweging wat in die Bulls se eie kwartgebied begin het toe Pollard ’n skop van een van die Hurricanes afgestorm het.

Die doelskop was mis, maar die Bulls was voor op die telbord en met ’n paar minute oor moes hulle karakter wys. Dit het hulle puik gedoen om die wedstryd uiteindelik te wen en hul seisoen op ’n positiewe noot te begin.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 21 Drieë: Johnny Kotze, Lood de Jager, Pierre Schoeman. Strafdoele: Handré Pollard (2).

HURRICANES: 19 Drieë: Ricky Ricctelli, Wes Goosen, Beauden Barrett. Doelskoppe: Ihaia West (2).

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button