Local sportSport

Tuks diep in die moeilikheid na vierde nederlaag in Varsitybeker toernooi

Die verdedigende Varsitybeker kampioen, Tukkies, is diep in die moeilikheid in vanjaar se toernooi, nadat hulle Maandagaand hul vierde agtereenvolgende nederlaag gely het.

Die Universiteit van Kaapstad (Ikeys) het die Universiteit van Pretoria (Tukkies) Maandagaand op hul tuisveld teen die hang van Tafelberg met 23-13 geklop en daarmee die Pretorianers se 2018 Varsitybeker-veldtog amptelik in ’n krisis gedompel.

Tukkies se vierde agtereenvolgende nederlaag beteken dat David Manuel se span se fokus in hul oorblywende vier wedstryde eerstens op oorlewing sal wees en dat die wen van die toernooi op hierdie stadium waarskynlik nie meer deel van hul korttermynbeplanning uitmaak nie.

Tuks het Maandag in Kaapstad goed begin en eerste punte aangeteken toe heelagter Christo Hamman oor die doellyn is.

Toe buitesenter Adrian Seerane ook gaan druk, wou dit lyk of Tuks op pad was om hul eerste wedstryd in vanjaar se reeks te wen. Ongelukkig kon Tinus de Beer nie een van die drieë verdoel nie.

Die Ikeys het egter stelselmatig teruggekom in die wedstryd met twee verdoelde drieë.

‘n Strafdoel deur De Beer het tot die spanningslyn in die wedstryd bygedra en met een punt verskil tussen die twee spanne en slegs ’n paar minute speeltyd oor was die wedstryd in die weegskaal.

Tuks het teen die einde verwoed aangeval, maar Ikeys het besit omgekeer en hul buitesenter, Liam Furnis, was die held van die dag met sy drie in die doodsnikke van die wedstryd.

Volgens die reëls van die toernooi sal die span wat vanjaar heel onder eindig outomaties gerelegeer word na die Varsity Skild liga, terwyl die topspan in dié liga na die Varsitybeker-afdeling sal opskuif. Tuks sal dus ten alle koste eers uit die laaste posisie op die punteleer wil wegkom en dit beteken dat hulle nie kan bekostig om weer te verloor nie.

Trouens, Tuks sal hoop om selfs hoër as tweedelaaste (agtste) op die punteleer te eindig, aangesien die span in dié posisie ook die kans staan om gerelegeer te word. Die span wat agtste eindig sal egter hul status in ’n promosie/relegasie-wedstryd teen die tweede beste span in die Varsity Skild liga kan verdedig.

Tuks speel eerskomende Maandag om 16:45 op hul tuisveld teen die Pukke van die Noorwes Universiteit.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button