Tuks begin Superliga met oorwinning oor Naka Bulle
Tukkies het Saterdag die nuwe Super Klubliga en die Carltonbeker-liga met ‘n naelskraapse oorwinning oor ABE Midas Naka Bulle begin.
Die nuwe interprovinsiale Super Klubliga het die afgelope Saterdag afgeskop en as die standaard van die rugby in die wedstryd tussen Tukkies en ABE Midas Naka Bulle ’n aanduiding is van wat nog kom, kan klubrugby-liefhebbers uitsien na ’n opwindende seisoen.
Dié twee klubs se eerste spanne het Saterdag op ABE Midas Naka Bulle se velde ’n feesdag van rugby afgesluit met ’n vertoning wat die toeskouers op die punte van hul stoele gehad het.
Hoewel die tuisspan drie van die vyf wedstryde op die dag gewen het, kon Tukkies daarin slaag om die belangrikste wedstryd van die dag, die stryd tussen die eerste spanne, naelskraaps met 34-31 te wen.
ABE Midas Naka Bulle se juniors (o.20 wen 35-24 en o.21 wen 43-19) het albei hul teenstanders van Tukkies oorrompel en die manne van die Moot se derdes het ook met 31-17 gewen. Tuks se tweedes het egter sewe drieë ingeryg tydens hul oorwinning van 47-31, terwyl ’n enkele strafdoel die verskil was tussen die eerste spanne.
In die wedstryd tussen die eerste spanne het albei spanne elk vier keer agter die doellyn gaan kuier. Tukkies het die eerste helfte oorheers en teen rustyd het hulle 34-10 voorgeloop. Sylvester Booysen en sy manne het egter in die tweede helfte teruggeveg en 21 onbeantwoorde punte aangeteken.
Die toeskouers wat die SupeRugby-aksie op Loftus Versfeld opgeoffer het om hul klubs te ondersteun is getrakteer met sprankelrugby op ’n dag waartydens die vyf wedstryde ’n totaal van 46 drieë opgelewer het.
Nadat ABE Midas Naka Bulle en Tukkies die nuwe Superliga (én die Carltonbeker) se 2018-seisoen afgeskop het, sal die res van die spanne in die liga eerskomende naweek almal in aksie wees en die Pretoria-spanne speel almal tuis.
Die verdedigende Carltonbeker-kampioen, Quins-Bobbies (QBR) skop hul veldtog op hul tuisveld af teen Springs, Centurion speel tuis teen Rustenburg Impala, ABE Midas Naka Bulle ontmoet Brakpan in die Moot en Tukkies speel gasheer vir East Rand United (ERU).
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:









