Local sportSport

Lions blitzkrieg sink Bulls in Jukskei derby

Die Lions het hul buurman van anderkant die Jukskeirivier, die Bulls, Saterdagaand op Loftus Versfeld deeglik teruggebring aarde toe met ‘n behoorlike rugbyles.

Die Lions het Saterdagaand op Loftus Versfeld sewe keer agter die doellyn gaan kuier om die Trans-Jukskei derby teen die Bulls maklik met 49-35 te wen.

Na die Bulls se eerste wedstryd, waarin hulle die Hurricanes van Nieu-Seeland geklop het, was daar groot verwagtinge van hul ondersteuners. Die feit dat die wedstryd ’n Trans-Jukskei derby was, het ook bygedra dat 20 789 toeskouers vir die wedstryd opgedaag het – waarskynlik die beste SupeRugby-skare in drie seisoene op Loftus.

Daar is ook vooraf voorspel dat die wedstryd voorlangs gewen of verloor sal word en sommer vroeg in die eerste helfte is dié verwagting bevestig.

Hoewel die Bulls eerste punte aangeteken het via ’n strafdoel van Marnitz Boshoff, was dit die Lions se pak voorspelers wat kort daarna gewys het dat hulle nie per ongeluk die afgelope twee seisoene in die eindstryd van hierdie kompetisie gespeel het nie.

Die Lions het twee drieë kort na mekaar vanaf lynstaan-dryfbewegings gaan druk, met hul twee stutte, Ruan Dreyer en Jacques van Rooyen wat die afrondwerk kon doen.

Boshoff het die telbord aan die rol gehou vir die Bulls met nog twee strafdoele, maar ’n flater van hom het die Lions in staat gestel om hul derde drie te druk na ’n hafuur se spel. Elton Janjies het ’n netjiese steekskoppie in die doelgebied laat beland en Boshoff was daar om die bal dood te druk, maar hy is geklop deur die uitgestrekte hand van ’n duikende Marvin Orie.

Kort voor rustyd het die Bulls ’n belangrike drie gedruk toe Johnny Kotze ’n hoekskop van Handré Pollard opgevolg het. Dié drie het die rustydtelling op 21-14 in die Lions se guns te staan laat kom.

Slegs 20 sekondes na die afskop van die tweede helfte het die Bulls-ondersteuners se hoop opgevlam toe Handré Pollard ’n losbal opraap en in die hoek oorduik ná ’n puik laagvat van André Warner op Ross Cronjé.

Die Lions het egter gou terugeslaan met nóg ’n drie vanaf ‘n lynstaan-dryfbeweging. Dié keer was dit Springbokhaker Malcolm Marx wat kon afrond.

Na ’n kwartier se spel in die tweede helfte het die koeël egter deur die kerk getrek ná ’n rampspoedige paar minute vir die Bulls.

Eers is Conraad van Vuuren koelkas toe gestuur met ’n geelkaart ná onkantspel, terwyl die Bulls kort tevore ’n amptelike waarskuwing gekry het. ’n Minuut later het skeidsregter Marius van der Westhuizen ’n strafdrie aan die Lions toegeken én Nick de Jager ook met ’n geelkaart afgestuur.

Direk na die afskop wat op die strafdrie gevolg het, het die Johannesburgers daarin geslaag om hul getallevoordeel te gebruik en Sylvian Mahuza kon gemaklik omdraf vir die Lions se sesde drie.

Binne ses minute het die Lions die telling van 21-21 na ’n voorsprong van 42-21 geswaai en dit was duidelik dat die tuisspan ’n wonderwerk nodig gehad het om terug te kom in die wedstryd.

John Mitchell se troepe het hard probeer en nooit gaan lê nie. Lizo Gqoboka en Travis Ismaiel het albei gaan druk, maar die horlosie was in die Lions se guns en die Bulls kon eenvoudig nooit genoeg beheer verkry om terug te kom in die wedstryd nie.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 35 Drieë: Johny Kotze, Handré Pollard, Lizo Gqoboka, Travis Ismaiel. Doelskoppe: Marnitz Boshoff (1), Francois Brummer (2) Strafdoele: Marnitz Boshoff (3).

LIONS: 49 Drieë: Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen, Marin Orie, Malcolm Marx, Strafdrie, Sylvian Mahuza, Ross Cronjé. Doelskoppe: Elton Jantjies (7).

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button