Local sportSport

Tuks se krisis verdiep na nóg ‘n pakslae in Varsitybeker

Die verdedigende Varsitybeker-kampioen, Tukkies, se rampspoedige seisoen duur steeds voort, nadat hulle Maandagaand op hul tuisveld deur die Pukke van Noordwes afgeransel is.

Vyf nederlae op ’n streep en steeds heel onder aan die punteleer met slegs twee liga-punte agter hul naam.

Dít is die krisissituasie waarin Tukkies se Varsitybekerspan, die verdedigende kampioen van die toernooi, hulself bevind ná Maandagaand se pakslae met 40-26 teen die Pukke van Potchefstroom.

Dit was ’n moet-wen vir die tuisspan, maar die memo het blykbaar nie by Eduan Lubbe en sy spanmaats uitgekom nie. Tuks het loodvoeterig en soms gewoon hopeloos gelyk vir 70 minute en eers nadat die slag reeds gelewer is en die Pukke kon ontspan, het die tuisspan ’n paar drieë gaan druk.

Pukke het in daardie saakmakende 70 minute regdeur gevaarlik gelyk en twee keer die doellyn gehaal voor rustyd, om die telling met die omdraaislag op 20-3 in hulle guns te staan te bring. Albei hul drieë in die eerste helfte het gekom as direkte gevolg van hul oorheersing van die vaste skrum.

Na rustyd het het die manne van Potchefstroom ongestoord voortgegaan om die drieë in te ryg.

Eers het hulle Tukkies vir ’n derde keer in die wedstryd in die skrum verneder om ’n oorstootdrie te druk. Daarna het heelagter Tapiwa Mafura in die hoek oorgegaan ná ’n volle agterlynbeweging.

Pukke het hul drieë-fees afgesluit met ’n skouspelagtige langafstand-drie, wat deur binnesenter AK Nela afgerond is.

Toe losskakel Schalk Hugo na ’n halfuur se spel in die tweede helfte besluit om pale toe te skop nadat sy span ’n strafskop binne trefafstand kry, was dit duidelik dat die Noordwesters geweet het die stryd is gewonne.

Tukkies se plaasvervangers is teen daardie tyd almal opgestuur en hulle het nuwe vonk aan die span gebring. Met die Pukke wat die voet duidelik van die pedaal gehaal het, het Tukkies skielik meer beweegruimte gekry en hule kon drie keer in die laaste agt minute deurnael. Dié drieë het hul telling effens meer respektabel laat lyk.

Kom ons sê dit egter maar reguit, want hoe lank moet ’n mens wag om die waarheid te konstateer: Hierdie span van Tukkies is waarskynlik die swakste afgerigte span wat nog dié trotse universiteit se trui gedra het in die 11-jarige geskiedenis van die Varsitybeker-toernooi.

TUKKIES: 26 Drieë: Marius Verwey, Marius Potgieter, Johan Grobbelaar. Doelskoppe: Cliven Loubser (2).  Strafdoele: Cliven Loubser (1).

PUKKE: 40 Drieë: Chriswell September, Gideon van der Merwe, Tiaan Bezuidenhout, Tapiwa Mafura, AK Nela. Doelskoppe: Schalk Hugo (2). Strafdoele: Schalk Hugo (3)

Skeidsregter: Stephan Geldenhuys

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button