Local sportSport

Goeie naweek vir Bloubul klubs in Superliga

Drie van die vier plaaslike klubrugby spanne het die afgelope naweek oorwinnings behaal in die nuwe interprovinsiale Superliga.

Die nuwe klubrugby Superliga het die afgelope naweek stoom opgetel met al agt die spanne wat in aksie was.

Die naweek het redelik goed verloop vir spanne van die Blou Bulle, met slegs Centurion wat nie hul bepaling kon wen nie.

ABE Midas Naka Bulle het die beste gevaar met hul weghol oorwinning van 67-22 teen Brakpan. Die wedstryd is op Loftus Versfeld gespeel as voorwedstryd vir die SuperRugby kragmeting tussen die Bulls en die Lions.

Die manne van die Oos-Rand het in die eerste helfte nog bygehou, maar Sylverter Booysen en sy troepe se groter fiksheid en beter vaardigheid was een te veel vir hulle in die tweede helfte. Die rustydtelling was 29-15 in ABE Midas Naka Bulle se guns.

Die gewese Springbok flank en Bloubul kaptein Arno Botha se jonger broer, Frans, was een van ABE Midas Naka Bulle se uitblinkers met sy vier drieë. Botha, wat vleuel speel, het die Oosranders laat bontstaan met sy krag en vaart.

Kefense Mahlo wat verlede jaar nog vir die Bulls gespeel het, was ook ‘n uitblinker met sy aanvallende spel op heelagter, waarmee hy gereeld geleenthede geskep het vir sy spanmaats.

* In Centurion het Jacques Olivier en sy spanmaats hul rieme styfgeloop teen ‘n begeesterde span van Rustenburg Impala, wat gewys het dat hulle waarskynlik ernstige aanspraakmakers gaan wees om die nuwe Superliga se eerste kampioen te word.

Impala het die wedstryd met 32-12 gewen.

* Nóg ‘n span wat vir die tweede week na mekaar gewys het dat hulle ‘n krag sal wees in die nuwe toernooi is Tukkies.

Die studente, wat vanjaar deur die bekende Nico Luus afgerig word, het East Rand United van Boksburg met 75-5 afgeslag. Dit was hul tweede bonuspunt oorwinning van die toernooi, nadat hulle verlede week ook met ABE Midas Naka Bulle afgereken het.

* Die verdedigende Carltonbeker kampioen, QBR, het gewys dat hulle beslis ook vanjaar ‘n krag sal wees om mee rekening te hou, ten spyte van die feit dat hulle die dienste van Luus as afrigter en ‘n hele paar ster-spelers verloor het.

Gert Muller se manne het op hul tuisveld in Groenkloof met 41-32 teen Springs gewen.

Eerskomende naweek reis Tukkies na Brakpan om die Oosranders op hul tuisveld te pak. QBR sal ook die R21 na die Oosrand aandurf om in Boksburg teen East Rand United te speel. Centurion speel op hul tuisveld teen ABE Midas Naka Bulle. Springs sal gasheer speel vir Rustenburg Impala.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button