Local sportSport

Nollis Marais moet Tuks van relegasie-vernedering red

Nollis Marais, wat reeds twee keer die Varsitybeker as afrigter gewen het, moet kom help om Tuks van die vernedering van relegasie te red.

Nollis Marais, die verguisde gewese afrigter van die Bulls in die SupeRugby-kompetisie en die Blou Bulle in die Curriebeker-toernooi, het ’n noodroep van Tukkies gekry om hulle te kom red van die vernedering van outomatiese relegasie uit die Varsitbeker-reeks.

TuksRugby het Woensdagoggend in ’n verklaring erken dat hulle diep in die moeilikheid is weens die feit dat hulle nog nie een van hul vyf wedstryde tot dusver in die Varsitybeker-toernooi kon wen nie. Tuks kon tot dusver slegs daarin slaag om twee bonuspunte te verdien en hulle bevind hulself heel onder aan die punteleer.

Hierdie situasie word selfs vererger deur die feit dat Tuks die verdedigende kampioen in die toernooi is.

Volgens die reëls van die Varsitybeker-toernooi sal die span wat vanjaar heel onder aan die punteleer eindig outomaties gerelegeer word na die Varsity Skild-kompetisie, die laer liga onder die vaandel van VarsitySport.

Selfs al slaag Tuks daarin om uit die laaste posisie na die tweede laaste plek te vorder deur verby een van die spanne direk bo hulle te skuif, sal hulle volgens die reëls steeds in ’n promosie/relegasie-uitspeelstryd betrokke wees teen die span wat vanjaar tweede eindig in die Varsity Skild-afdeling.

Tuks sal dus alles in die stryd werp om ten minste derde laaste (buite gevaar) op die punteleer te eindig. Hul kans om hoër as dit op die punteleer te eindig is bitter skraal, aangesien hulle daarvoor die Shimlas, wat tans 14 liga punte het, sal moet verbysteek. Tuks se onmiddelike doelwit sal dus wees om aldrie hul laaste drie ligawedstryde te wen. Dit sluit wedstryde teen die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT van Bloemfontein) en die Nelson Mandela Metro Universiteit (NMMU of Die Madibaz) in. Dié twee universiteite, wat tans onderskeidelik in die sewende posisie (5 punte) en agste posisie (3 punte) op die punteleer is, sukkel ook en as Tuks hulle albei kan klop én ook ’n oorwinning of ten minste ’n verloor-bonuspunt teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) kan behaal, behoort hulle buite gevaar in die sewende plek te eindig.

Marais, wat vanjaar die Blou Bulle se o.19-span sal afrig én ook Tuks se Younguns (o.20’s) in die Varsitybeker-toernooi brei, word met onmiddelike effek die hoofafrigter van Tuks se senior Varsitybekerspan.

David Manuel, wat die hoofafrigter was, word gedemoveer tot Marais se hulpafrigter, terwyl Anton Leonard steeds die hulpafrigter by die voorspelers sal bly.

Marais het sy professionele loopbaan by Tukkies begin en dié universiteit se Varsitybekerspan in 2012 en 2013 tot kampioen in hierdie toernooi gebrei. Hy het ook die provinsiale o.21-toernooi drie keer (2011, 2012 en 2014) gewen as afrigter van die Blou Bulle se o.21’s.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button