Local sportSport

Lang messe uit vir Blou Bulle se president weens twis oor geld

Administrateurs van amateurrugby onder die jurisdiksie van die Blou Bulle is in opstand, nadat miljoene rand uit die unie se koffers in ‘n oënskynlike bodemlose put beland het om die professionele arm op Loftus Versfeld aan die lewe te hou.

Binnegevegte wat nou reeds weke lank in die raadsale van Loftus Versfeld woed sal waarskynlik binnekort op die spits gedryf word wanneer die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) se Uniekomitee (UK) oor ‘n mosie van wantroue teen die president, Gert Wessels, moet stem.

Die uiteinde van die magstryd tussen Wessels en ‘n groot deel van sy kollegas in die bestuur van die unie sal nie net verrykende gevolge vir die toekoms van die Blou Bulle hê nie, maar dit verlam tans die werksaamhede van die bestuur.

Die oorsprong van die gevegte spruit uit beskuldigings van finansiële wanbestuur teen Wessels en die Hoof Uitvoerdende Beampte van die unie, dr. Eugene Hare. Daar word beweer dat die twee manne hoofrolle gespeel het in ‘n saga waarin miljoene rand van die unie se fondse aan die sukkelende Blou Bulle Maatskappy (BBM) geleen is om hulle te help om te kan oorleef. Verskillende leningsbedrae, wat altesaam sowat R18 miljoen beloop, is by die sage betrokke. Sommige van hierdie lenings is skynbaar, in terme van die unie se grondwet, op onregmatige wyse deur Wessels en enkele ander persone gefasiliteer sonder die medewete of goedkeuring van die meerderheid stemgeregtigde lede van die UK.

Nadat verkeie nuwe vise-presidente einde verlede jaar deur die UK ingestem is, het ‘n paar manne snuf in die neus gekry oor die unie se geldsake. By nadere ondersoek het die bom gebars oor die wyse waarop die unie moes instaan om die sukkelende maatskappy (die enitietit wat omsien na professionele rugby) van bankrotskap te red.

Verteenwoordigers van amateurrugby by klubs en ander verenigings (skeidsregters, skole, afrigters en noodhulp) was opgewonde oor die vooruitsigte van finansiële voordeel wat hulle volgens beloftes sou ontvang van die sogenaamde “Noordgronde Ontwikkeling” by Loftus Versfeld. Dié ontwikkeling van meer as R1-miljard, wat reeds ver gevorder het en later vanjaar voltooi sal word, is ‘n projek deur ‘n privaat ontwikkelaar op ‘n stuk grond noord van die Loftus Versfeld stadion, wat aan die unie behoort. Dit staan amptelik bekend as Loftus Park en sal uiteindelik by voltooiing ’n hotel, kantoorgeboue, verskeie winkels en restaurante insluit.

Volgens die ooreenkoms tussen die unie en die ontwikkelaar sal dié ontwikkeling aan die unie huurinkomste van miljoene rand oor ‘n tydperk van verskeie dekades verseker. Daar is ook ooreengekom op die betaling van ‘n aanvangsbedrag van R30 miljoen, waardeur die grond aan die ontwikkelaar beskikbaar gestel is. Dié bedrag is aan die unie oorbetaal toe daar met die ontwikkeling begin is.

Hoewel verteenwoordigers van klubs en verenigings vooraf belowe is dat die geld gebruik sal word om amateurrugby te ondersteun en op te hef, blyk dit nou dat ‘n reuse deel van die aanvanklike R30 miljoen egter die afgelope twee jaar stelselmatig deur die BBM via lenings opgeslurp is en dat daar nie werklik enige vooruitsig is dat die maatskappy binnekort in staat sal wees om dit terug te betaal nie.

Rekord het betroubaar verneem dat die BBRU in hierdie tydperk meer as R18 miljoen via lenings aan die maatskappy oorbetaal het en dat die unie nou self die gevaar loop om tekorte op sy eie begroting te ervaar.

‘n Aspek waaroor lede van die unie se UK woedend is, is die feit dat ten minste een van die lenings aan die maatskappy gemaak is met die voorwaarde dat dit eers terugbetaalbaar is wanneer die maatskappy weer wins begin maak. Die geskiedenis het egter geleer dat die maatskappy in die verlede slegs wins gemaak het toe die Bulls en Blou Bulle ‘n gevreeste faktor in SuperRugby en die Curriebeker reeks was en week na week meer as 30 000 toeskouers na hul wedstryde gelok het.

Verlede jaar het die span egter sy swakste seisoen in 15 jaar beleef en die maatskappy is teen reuse verliese bedryf.

Daar heers verder grootskaalse ontevredenheid oor die wyse waarop die maatskappy se hoëprestasie departement bedryf word. Daar word veral vingers gewys na twyfelagtige besluite ten opsigte van die werwing van hoëprofiel spelers en die aanstelling van afrigters en bestuurspersoneel. Uit amateurgeldere word gesê dat die tyd aangebreek het vir die bestuur van die maatskappy – en veral persone betrokke by die werwing van spelers waarop reuse bedrae geld uitgegee is sonder dat hulle ‘n noemenswaardige bate vir die span was – in hierdie krisis tot verantwoording geroep moet word.

Voorsitters van klubs en ander belanghebbendes by amateurstrukture van die Blou Bulle met wie Rekord gepraat het sê hulle voel verraai deur die gebeure rondom die unie se geldsake. Volgens baie woordvoerders het hulle juis in 2014 vir Wessels ondersteun toe hy die vorige president, Louis Nel, uit die kussings gelig het. Hulle het geglo Wessels se jarelange betrokkenheid by amateurrugby sal aan hom die nodige perspektief gee om klubs en amateurverenigings te ondersteun om weer hul kragte op te bou, nadat verskeie klubs die afgelope dekade hul deure moes sluit of met ander klubs moes saamsmelt.

Die BBRU besit 50% van die BBM en Wessels het die afgelope tyd op twee stoele gesit as president van die BBRU én as voorsitter van die BBM se direksie. In uniegeledere word daar nou geglo dat Wessels amateurrugby verraai het.

Die antagonisme teen Wessels is verhoog toe hy onder druk om te bedank ‘n ontsnaproete probeer vind het deur sy bedanking te koppel aan ‘n voorwaarde dat hy deur die unie genomineer moet word vir ‘n vakante pos op SA Rugby se uitvoerede komitee. Verskeie woordvoerders het aan Rekord gesê dat hierdie voorwaarde van Wessels grens aan afpersing en dat hulle, gesien in die lig van die vertrouensbreuk tussen die UK en die president, nie daarvoor te vinde was nie.

Dit lyk dus of Wessels tans geïsoleerd is van sy bestuur by die BBRU en dat die grootste deel van die bestuurslede in albei die streke (Pretoria en Limpopo), gereed is om hom uit te stem deur middel van die wantrouemosie.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button