Carltonbeker spanne oorheers Superliga se tweede week
Die afgelope naweek se uitslae in die nuwe Super Klubliga dui daarop dat die spanne uit die Bou Bulle se Carltonbeker liga vanjaar dié liga sal oorheers.

Ná net twee weke se aksie in die nuwe Super Klubliga lyk dit of die spanne uit die Carltonbeker liga waarskynlik dié nuwe rugbytoernooi gaan oorheers.
Daar is selfs effense kommer in sommige geledere dat die nuwe liga sal misluk, omdat groot punteverskille en wegholoorwinnings nie goed is vir die vestiging van die toernooi nie. Vir die tweede week agtereenvolgens het die Pretoria-klubs en Rustenburg Impala, wat almal uit die Carltonbeker liga kom, skoonskip gemaak teen die drie klubs van die Valke, wat deel is van die nuwe Superliga.
Nadat Brakpan, tradisioneel een van die Valke se sterkste klubs, verlede week deeglik met 67-22 deur ABE Naka Bulle geklop is, het hulle die afgelope naweek ‘n pakslae van 97-0 op hul tuisveld teen Tukkies gekry.
Soos die telling aandui was dit eenrigtingverkeer en dit was duidelik dat die twee spanne nie in dieselfde liga hoort nie. Hierdie soort tellings sal opnuut vrae laat ontstaan oor die nuwe Superliga. Is dit werklik die oplossing om klubrugby te red?
* Rustenburg Impala het weer gewys dat hulle beslis ‘n reuse faktor gaan wees in die nuwe liga, toe hulle ses drieë ingeryg het tydens hul oorwinning van 39-30 teen Springs.
Die Noordwesters, wat vanjaar deur die veteraan slot Tiaan Nel gelei word, beskik ook oor die dienste van die gewese Junior Springbok, Johnny Welthagen, op losskakel.
Springs het self drie keer die doellyn gehaal, terwyl hul doelskopper, André Smit, 15 punte met sy akkurate skopskoen aangeteken het.
* Quins-Bobbies (QBR) het vir die tweede week agtereenvolgens gewys dat hulle die uittog van heelwat top spelers, asook die vertrek van Nico Luus as afrigter, met goeie bestuur en werwing oorkom het.
QBR het Saterdag met East Rand United van Boksburg afgereken. Die eindtelling was 35-28 in die manne van Groenkloof se guns. Hoewel Gert Muller se span waarskynlik eers waarlik getoets sal word wanneer hulle een van die Carltonbeker spanne aandurf, het hulle nou twee weke na mekaar goeie rugby gespeel en waardevolle ligapunte verwerf.
East Rand United is een van die Valke se top klubs en hulle het verlede seisoen naelskraaps in die eindstryd van dié unie se senior klubliga teen Vereeniging verloor.
* In Centurion het die tuisspan en ABE Midas Naka Bulle mekaar Saterdag in die naweek se enigste Pretoria derby aangevat.
ABE Midas Naka Bulle het verbasend maklik met 2016 se Carltonbeker kampioen afgereken deur hulle met 55-3 te klop.
Die manne van die Moot het agt keer agter die doellyn gaan kuier en teen rustyd was hulle reeds met 29-3 voor. Hoewel Centurion veral in die tweede helfte verwoed probeer terugveg het, kon hulle net nie die verdediging van ABE Midas Naka Bulle klop nie.
Hoewel dit moeilik is om spelers uit te sonder ná ‘n kragvertoning soos dié deur ABE Midas Naka Bulle, het Kefentse Mahlo met sy man-van-die-wedstryd vertoning tog sy ervaring en klas onderstreep. Dié gewese Bulls vleuel draf vir die Moot-span op heelagter uit.
ABE Midas Naka Bulle se skakelpaar, Etienne Storm en Jean Grobler, het ook beïndruk met die wyse waarop hulle die wedstryd beheer het, terwyl kaptein Sylvester Booysen, haker Johan Pieterse en die rateltaai baljagter flank, Ian van Deventer, voorlangs uitgetroon het.
Centurion kan beslis nie nou al afgeskryf word nie. Hulle het heelwat van verlede seisoen se staatmakers verloor, wat beteken dat Riaan Brand en Fanie Nortjé besig is om ‘n nuwe span met heelwat jong talent te bou.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




