Local sportSport

Puik oorwinnings vir Garsies en Menlo op die rugbyveld

Terwyl Garsfontein, Menlopark en Affies die afgelope naweek goeie oorwinnings op die rugbyveld behaal het, het Waterkloof vasgeval teen een van Johannesburg se rugbykragte.

Met die skole rugbyseisoen wat spoed begin optel op pad na die opwinding van al die toernooie wat in die Paasvakansie voorlê, het plaaslike skole met die uitsondering van Waterkloof die afgelope naweek landwyd sukses behaal.

* Waterkloof het op hul tuisveld gasheer gespeel vir Helpmekaar van Johannesburg. Ongelukkig het rampspoed die tuisspan na net agt minute se spel getref toe hul buitesenter, Julian Bogner, met ’n rooikaart afgestuur is nadat hy ‘n boorvat op ‘n teenstander uitgevoer het.

Die Kofies moes dus vir meer as ‘n uur hul hoogaangeskrewe teenstanders met net 14 man aandurf. Hoewel dit geen maklike taak was nie, kan ‘n mens jou hoed afhaal vir die wyse waarop die tuisspan enduit teen die oormag geveg het.

Ongelukkig het die noodlot aanhou klop aan Klofies se deur en hul geledere is verder verswak toe hulle deur die loop van die wedstryd ook hul ander senter, Brondon Katzke, én albei hul slotte, Marnus Koekemoer en Richard van den Berg, met oënskynlike ernstige beserings verloor het.

Hoewel Klofies se voorspelers regdeur die wedstryd met hul teenstanders kon saamgesels – en soms selfs die oorhand gehad het – was Helpmekaar agterlangs vinniger en vaardiger, terwyl die ekstra man hulle boonop verder bevoordeel het. Helpmekaar het die wedstryd uiteindelik met 39-11 gewen.

* Garsfontein het weer gewys dat hulle vanjaar ‘n krag gaan wees in al die ligas waarin hulle speel toe hulle die baie sterk span van Boland Landbou op laasgenoemde se eie rugbydag in die Kaap met 24-20 geklop het.

Soos telkens die geval met die span van Garsfontein die afgelope paar seisoene, het hulle eers in die tweede helfte werklik hul snelrat gevind, nadat hulle teen rustyd met 7-17 agter was.

Met twee van hul gevestigde sterre, Diego Appollis en Juandré Scheepers aan die spits, het Garsies se Bere teruggeveg om die wedstryd dmet 24-20 te wen.

* In Nelspruit het Menlopark hul tweede agtereenvolgende oorwinning in die Tuks-reeks behaal toe hulle Nelspruit in ‘n klipharde en spannende wedstryd met 17-14 geklop het.

Die Laevelders was teen rustyd nog met 14-10 voor, maar flink dinkwerk deur die spelers van Menlopark het die haastige vleuel, Nsuku Baloy, in staat gestel om die wendrie te druk ná ‘n vinninge ingooi toe die bal oor die kantlyn is.

Nelspruit het teen die einde van die wedstryd alles in die stryd gewerp, maar die Parkies se verdediging het gehou en dié oorwinning sal hulle baie selfvertroue gee vir die res van die toernooi.

* Eldoraigne is die ander plaaslike skool wat die naweek indie Tuks-reeks in aksie was, maar dié skool van Centurion het in Rustenburg teen Hoërskool Rustenburg teleurgestel deur met 50-12 oorrompel te word.

* Afrikaans Hoër Seunskool het op hul tuisveld in Pretoria redelik maklik (40-7) met die besoekers uit die Noord-Kaap, Diamantveld, afgereken.

Hoewel die seuns van Kimberley in die eerste helfte nog bygehou het met die telling op 5-0 in Affies se guns, was die tuisspan se totale rugby goed genoeg om Diamantveld se verdediging oop te kloof en die telbord aan die rol te kry in die tweede helfte.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button