Tuks verras met gelykop uitslag teen UJ, TUT kwalifiseer vir halfeindstryd
Nollis Marais se Tuks span het nog ‘n positiewe stap geneem om uit die relegasie-gevaarsone in die Varsitybeker toernooi te ontsnap, terwyl Pretoria se verteenwoordiger in die Varsity Skild reeks vir die eerste keer in jare vir ‘n uitspeelwedstryd gekwalifiseer het.

Dit wil voorkom of die bestuur van die Tuks Rugbyklub se noodroep na die gewese Bulls afrigter, Nollis Marais, vrugte afwerp en dat hy besig is om die universiteit se span suksesvol uit die kake van die relegasie-spook te red.
Marais is twee weke gelede nadergetrek om ‘n vernederende krisis af te weer, nadat die universiteit se Varsitybeker span op daardie stadium met David Manuel as afrigter nog nie ‘n enkele wedstryd in vanjaar se toernooi kon wen nie. Tuks was vanjaar die verdedigende kampioen in die toernooi.
‘n Week later het die span onder Marais se leiding hul eerste oorwinning van die seisoen behaal toe hulle die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) op laasgenoemde se tuisveld in Bloemfontein met 54-26 oorrompel het.
Marais se groot toets sou egter die afgelope Maandag volg. Tuks moes op hul tuisveld die omgekrapte span van die Universiteit van Johannesburg (UJ) aandurf. Die Johannesburgers is ernstige kandidate vir ‘n plek in die halfeindrondte, terwyl hulle tot voor Maandag se wedstryd selfs nog ‘n teoretiese kans gehad het om vir ‘n tuis halfeindstryd te kwalifiseer.
In die lig van hierdie situasie het min rugbyliefhebbers Marais se beleërde span ‘n kans gegee om UJ te klop. Daar is algemeen aanvaar dat UJ maklik sou wen en dat Tuks eerder hul laaste wedstryd teen die Madibaz van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth (NMMU) moes teiken om die onderste twee plekke op die punteleer – en dus enige moontlike relegasie gevaar – te ontduik.
Die span wat vanjaar heel onder aan die punteleer eindig word outomaties gerelegeer, terwyl die span wat bo eindig in die Varsity Skild toernooi outomaties gepromoveer word na die top liga. Die span wat egter tweedelaaste eindig in die top liga is ook in gevaar, want hy moet in ‘n promosie/relegasie wedstryd sy status verdedig teen die span wat tweede eindig op die punteleer van die Varsity Skild.
Hoewel Tuks Maandagaand in die eerste helfte teen UJ gesukkel het en teen rustyd met 7-20 agter was, het hulle met ‘n vasbyt vertoning teruggeveg om uiteindelik ‘n gelykop uitslag (30-30) af te dwing. In die proses het Tuks meer drieë as hul hoogaangeskrewe teenstanders gedruk, terwyl die Johannesburgers moes staatmaak op die skopvoet van hul losskakel, Kobus Engelbrecht, om in die prentjie te bly.
Tuks kort dus slegs twee ligapunte om te verseker dat hulle buite die relegasie-sone eindig. Hulle speel eerskomende Maandag tuis teen die Madibaz en behoort ‘n realistiese kans te hê om die wedstryd te wen teen die span wat tans heel onder aan die punteleer is. Dit sal egter nie maklik wees nie, aangesien die Oos-Kapenaars ook vir oorlewing sal veg.
* Intussen beleef Pretoria se ander universiteit, die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) hul beste seisoen in baie jare in die Varsity Skild liga.
TUT was een van die spanne wat in die eerste Varsitybeker toernooi in 2008 gekompeteer het, maar intussen het rugby by dié universiteit deur diep water gegaan sedert hulle etlike seisoene gelede uit die top liga gerelegeer is. TUT het intussen ook in die Bloubul strukture hul Carltonbeker status vrywillig prysgegee, omdat hulle nie meer in dié liga kompeterend was nie.
Onder die leiding van Marius Scholtz en James Watt het TUT egter vanjaar ‘n baie goeie veldtog in die Varsity Skild liga beleef. Scholtz en Watt se manne het hul eerste drie wedstryde gewen en was selfs op ‘n stadium ‘n kandidaat om vir promosie na die Varsitybeker liga in aanmerking te kom.
Twee nederlae teen die twee top spanne in die liga het hulle egter op die punteleer laat afskuif, maar die afgelope Maandag het TUT vir vanjaar se Varsity Skild halfeindstryd gekwalifiseer met hul vierde oorwinning van die seisoen.
Die studente van Pretoria-Wes speel eerskomende Maandag in Kaapstrad teen die Universiteit van die Wes-Kaap (UWC) vir ‘n plek in die Varsity Skild eindstryd.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



