Carltonbeker klubs oorheers steeds Superliga
Quins-Bobbies het Saterdag teen Tukkies gewys dat hulle steeds ‘n faktor in plaaslike klubrugby is, terwyl die drie klubs van die Valke weer almal vasgeval het teen hul Carltonliga teenstanders.

Week drie van klubrugby se nuwe Superliga is die afgelope naweek afgehandel en wéér het die amptelike Carltonbeker klubs sake oorheers.
In die proses het die drie klubs van die Valke Rugby-unie weer gesukkel om hulself te laat geld teen die Carltonbekerklubs.
Die uitsondering van die naweek was die interessante stryd tussen Quins-Bobbies (QBR) en Tukkies op eersgenoemde se tuisveld in Groenkloof. Hoewel Tukkies uiteindelik dié stryd met 57-33 gewen het, moes hulle hard werk om wraak te neem vir hul nederlaag in verlede jaar se Carltonbeker eindstryd.
Dié stryd het nóg ’n interessante aspek gehad deurdat Nico Luus, wat deesdae Tukkies se hoofafrigter is, en sy voormalige kollega by QBR, Gert Muller, die eerste keer ook as afrigters in verskillende kampies langs die veld moes staan.
Luus het hierdie rondte gewen, maar Muller en sy assistente, die deurwinterde Johan Kluyts en opkomende Ludwich von Deventer, kan heel tevrede voel met hul span se vertoning. Trouens, die tuisspan het tot kort voor rustyd nog voorgeloop en die wedstryd was in die weegskaal tot halfpad deur die tweede helfte, met die telling op 38-30 in Tukkies se guns.
QBR het Tukkies veral voorlangs die stryd aangesê, waar hul lostrio uitgestaan het. Twee geelkaarte in die laaste halfuur, waartydens QBR vir 20 minute met sewe voorspelers moes veg, het egter aan Tukkies die kans gegee om hul voorsprong te rek met drie drieë, waarvaan twee langafstand pogings teen die verloop van die spel was.
Tuks moet na dese die vroeë gunsteling in die toernooi wees, maar QBR gaan ‘n faktor bly as hulle kan voortbou op hul inklimspel van Saterdag.
* In die Moot het ABE Midas Naka Bulle op hul tuisveld agt drieë gedruk om Springs met 52-12 te verslaan.
Die tuisspan het hul diepte beklemtoon deur die oorwinning te behaal terwyl baie van hul sterre ’n blaaskans gekry het en eers later in die wedstryd van die bank af opgestuur is. ABE Naka Bulle was rustyd reeds gerieflik met 33-7 voor.
Die groot groep ondersteuners wat by die klub in Meyerstraat opgedaag het om hul span aan te moedig is getrakteer met aanskoulike hardlooprugby, soos bewys deur die feit dat ses van die agt drieë deur ABE Naka Bulle se buite-agterspelers gedruk is.
ABE Midas Naka Bulle se diepte is ook onderstreep toe hulle tweede- en derdespanne maklik met Tuine se Grizzlies afgereken het in die Presidentsliga. Grizzlies het tot dusver besonder goed gevaar in dié liga en hulle het onder andere met Tuks se Fezelas afgereken.
* Centurion het teruggebons met ‘n netjiese oorwinning van 57-7 teen Brakpan, wat op hierdie stadium lyk na die agterosse in die toernooi.
Die jong span van Centurion moes Oos-Rand toe reis vir die wedstryd en hulle het waarskynlik heelwat van hul selfvetroue herwin het met hierdie oorwinning, wat tien drieë ingesluit het.
Riaan Brand se manne kan eerskomende naweek verdere momentum opbou wanneer hulle Springs op hul tuisveld in die skadu van die Gautrein spoor in Centurion aanvat.
* Rustenburg Impala het ook weer hul stem dik gemaak met ‘n oorwinning van 44-6 teen die Valke se tweedebeste klub van 2017, East Rand United.
Impala, wat sedert verlede seisoen amptelik ook in die Carltonliga kompeteer, het verskeie gewese provinsiale spelers in hul geledere en hulle bly ‘n reuse faktor in die nuwe Superliga.
Die manne van Noordwes het ses drieë gedruk, terwyl hul teenstanders van Boksburg slegs twee strafdoele kon behaal.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
