Willem Strauss is Blou Bulle se nuwe president
Die Blou Bulle het Donderdagmiddag ‘n nuwe president verkies, nadat Gert Wessels vroeër vandeesweek bedank het.
Die bekende sportpromotor en vise-president van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), Willem Strauss, is Donderdagmiddag onbestrede verkies as nuwe president van dié unie.
Die verkiesing van Strauss (51) volg nadat die dienende president, Gert Wessels, die afgelope week bedank het ná ’n dreigende paleisrevolusie teen hom en die swaard van ’n mosie van wantroue deur die Uniekomitee (UK) van die BBRU wat oor sy kop gehang het.
Dr. Eugene Hare, hoof uitvoerende beampte van die BBRU, het Donderdagmiddag bevestig dat Strauss die enigste nominasie deur die UK was en daarom onbestrede verkies is.
Strauss sal in dié pos dien tot November vanjaar, wanneer die geskeduleerde presidentsverkiesing sal plaasvind waartydens die unie ’n president vir ’n volle vierjaartermyn sal verkies. Volgens alle aanduidings sal Strauss in November weer vir die pos beskikbaar wees.
Die nuwe president spog met ’n indrukwekkende loopbaan as sportadministrateur. Hy is oorspronklik van Bloemfontein, waar hy aan die Hoërskool Sand du Plessis gematrikuleer het en daarna aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovies) gestudeer het.
In 1991 word Strauss op 24-jarige ouderdom aangestel as die hoof uitvoerdende beampte van die destydse Suidoos-Transvaal Rugby-unie (deesdae die Mpumalanga Rugby-unie, wat ook beter bekend is as die Pumas). Met sy aankoms by Suidoos-Transvaal was die unie op ’n laagtepunt en hulle is amptelik gereken as 22e op die Suid-Afrikaanse ranglys van rugby-unies. Dit was voor die dae van professionalisme en die land het nog baie meer as 14 rugby-unies gehad.
Toe Strauss die Pumas in 1999 verlaat het om sy eie promosie-agentskap te begin, was dié unie amptelik vyfde op die Suid-Afrikaanse ranglys. Die Pumas het in daardie tydperk daarin geslaag om met spanne soos Noord-Transvaal, Transvaal en die WP af te reken, terwyl hulle ook met internasionale spanne van Skotland en Wallis afgereken het.
Weens die feit dat Suidoos-Transvaal deel was van die Noord-Transvaal (later Bulls) SupeRugby-span, is Strauss tussen 1996 en 1999 daar ook betrek as bemarkingsbestuurder.
As onafhanklike sportpromotor het Strauss bekendheid verwerf vir verskeie suksesvolle toernooie en toere wat hy georganiseer het. Hy was die eerste onafhanklike promotor wat ’n Springboktoets (teen Samoa) kon organiseer. Hy het ’n internasionale netwerk in die rugbywêreld opgebou en daardeur toere vir Suid-Afrikaanse spanne regoor die wêreld gereël, terwyl hy ook spanne ooral uit die rugbyspelende wêreld na Suid-Afrika gelok het.
Strauss het ’n reuse rol gespeel om sewes-rugby se status wêreldwyd op te bou en in Suid-Afrika was hy op ’n stadium bekend as “Meneer Sewes”. Hy is die promotor van sewes-rugbytoernooie regoor die wêreld en hy het ook reuse werk gedoen om sewes-toernooie in die res van Afrika te vestig. Sy bekende @lantic 7’s toernooi het oor verskeie seisoene meer as 1 000 skolespanne aan sewes-rugby blootgestel en verskeie Springbokke het hul eerste tree in dié verkorte weergawe van die spel in hierdie toernooi gegee.
In 2012 het Strauss by klubrugby in Pretoria betrokke geraak en onder sy leiding het die Oostelikes Eagles groot sukses in die Carltonbeker-liga behaal. Nadat dié klub weens logistieke redes met Harlequins saamgesmelt het, is Strauss as president van Harlequis Rugbyklub verkies en in 2014 word hy as vise-president tot die BBRU se UK verkies.
Strauss het as amptelike rugby-administrateur in die amateurgeledere onmiddellik ’n verskil gemaak met die instelling van die bekende Enrista Skoletoernooi (later Assupol Skoletoernooi). Dié toernooi skep vir skoolverlaters uit skole se eerste spanne reg oor Pretoria wat nie by Cravenweek- en Akademieweekspanne betrokke is nie, die geleentheid om in die kleure van Carltonbekerklubs verteenwoordigende rugby te speel en aan die klubrugby-kultuur blootgestel te word. Die spanne word in samewerking met die Blou Bulle se Hoërskolevereniging gekies en die toernooi het sedert sy instelling ’n merkbare verbetering in kwantiteit én kwaliteit by die Blou Bulle se junior (o.20 en o.21) klubligas tot gevolg gehad.
Strauss, ’n stiefbroer van die gewese Springbok-losskakel De Wet Ras, is getroud met Elmarie en hy het vier kinders.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
