Gewilde Kolonnade 3-in-1 wedloop lok baie, ten spyte van reën
Die vierde Kolonnade 3-in-1 padwedloop is die afgelope Saterdag weer met groot sukses in Montana aangebied.
Die Kolonnade 3-in-1 halfmarathon groei steeds in gewildheid en ten spyte van faktore wat vanjaar se wedloop kon beïnvloed, was dit steeds ’n reuse sukses.
Dié 21,1km-halfmarathon, wat ook ’n 10km-padwedloop en ’n 5km-pretdraf insluit, is die afgelope naweek vir die vierde keer by die Kolonnade-winkelsentrum deur die Overkruin Atletiekklub aangebied. Die wedloop, met sy gewilde roete deur die stil strate van Montanapark, het atlete vanoor die hele Gauteng gelok.
Ten spyte van faktore soos die feit dat die Om-die-Dam Ultramarathon ook Saterdag in Hartbeespoort plaasgevind het én die dreigende reënweer wat die naweek in Pretoria geheers het, het byna 2 000 atlete steeds ingeskryf vir die gewilde wedloop in Montana.
Johan Kirsten van die Overkruin Atletiekklub het aan Rekord gesê hulle is nie ondankbaar vir die reën wat die naweek geval het nie, maar hulle was wel dankbaar dat die reën eers laatoggend begin uitsak het. Die wedloop het in bewolkte weer begin en slegs die agterosse, wat net voor die afsnytyd van drie ure klaargemaak het, moes reënweer trotseer.
Die reën het wel ’n invloed gehad op die prysuitdelingseremonie, wat direk na die afsnytyd sou volg.
Drie sportspanne van die Hoërskool Overkruin het weer deelgeneem aan die Rekord waterpunt-kompetisie. Die spanne beman die drie waterpunte op die roete van die wedloop en kompeteer met mekaar vir die Rekord Trofee, wat aan die einde van die wedloop toegeken word aan die beste waterpunt.
Vanjaar se wenner was die Overkruin Landloopspan, wat veral ten opsigte van hul oorspronklikheid en gees effens beter gedoen het as die krieket- en hokkiespanne.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:








