Willem Strauss wil dadelik begin om amateurrugby weer op te hef
Die Blou Bulle se nuwe president, Willem Strauss, gaan onmiddellik begin om vier doelwitte wat hy vir homself gestel het, voor November vanjaar te bereik.
Die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) se nuwe president, Willem Strauss, gaan dadelik aan die werk spring met ‘n opheffingsprogram vir klub- en amateurrugby om vanjaar nog ‘n verskil te probeer maak in dié geledere.
Strauss sal in dié pos dien tot November vanjaar, wanneer die geskeduleerde presidentsverkiesing sal plaasvind waartydens die unie ‘n president vir ‘n volle vierjaar termyn sal verkies. Volgens alle aanduidings sal hy in November weer vir die pos beskikbaar wees.
Die 53-jarige Strauss het kort na sy verkiesing verlede week met Rekord gesels oor die uitdagings wat vir hom voorlê in sy nuwe pos by die Bulle.
“Ek voel besonder bevoorreg en geëerd om deur die Uniekomitee vertrou te word met hierdie taak. Ek glo daar is baie werk wat gedoen kan word om klub- en amateurrugby weer op te bou. Ek glo vas dat dít steeds die fondament is waarop ons die toekoms van die Bulle moet bou. Amateurrugby bly die hart van die sport waarvoor ons almal so lief is,” het Strauss dadelik beklemtoon.
Die nuwe president spog met ‘n indrukwekkende loopbaan as sportadministrateur en hy wil sy kennis, ervaring en sy internasionale netwerk van kontakte nou aanwend om Bloubul rugby in ere te herstel. Hy glo daaraan om in die praktyk dinge te laat gebeur, maar hy besef ook dat daar baie aspekte is wat aandag nodig het. Volgens Strauss glo hy egter om stap vir stap te werk te gaan en hy besef dat hy nie vanjaar nog alle leemtes sal kan aanspreek nie. Daarom het hy vier doelwitte vir homself gestel om tot Novembermaand te hanteer.
“Ek het eestens reeds ‘n borg gereël wat dit vir ons sal moontlik maak om die kampioene op eerstespan-vlak in al die Blou Bulle se klubligas vanjaar met kontantpryse te beloon,” het hy aangekondig.
Tweedens wil hy probeer om die leemte wat ontstaan het met SA Rugby se afskaffing van die provinsiale amateurligas te oorbrug en hy werk aan ‘n plan om vanjaar nog die legendariese Loftus 200 span te laat herleef. Hulle sal met die Bloubul madeliefie op die bors speel en hy hoop om kwaliteit teenstand – hoplike selfs ‘n internasionale span – vir hulle te reël.
“Derdens wil ek beslis ook weer oud spelers by die amateurgeledere betrek. Hulle is die helde wat onlosmaaklik deel is van die trotse geskiedenis van die Blou Bulle en hulle kan baie beteken om ons rugbykultuur weer tot ‘n hoogtepunt op te bou.”
“My vierde doelwit sal fokus op die ruggraat van amateurrugby, wat oor jare die unie help bou het, maar nooit voldoende erkenning gekry het nie. Ek glo dis hoogtyd om vanjaar nog erkenning te begin gee aan al die amateur administrateurs wat oor baie jare opgeoffer het om Bloubul rugby se trotse geskiedenis te bou,” het Strauss onderneem.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
