Meesters atlete wys hul slag by Pilditch
Daar was gryskoppe en bleskoppe en baie van die deelnemers is reeds oumas en oupas, maar by die Gauteng-Noord meesters atletiekkampioenskap het die atlete gewys dat hulle nog genoeg energie het om rekord tye en -afstande te behaal.
Gauteng-Noord se meesters atletiekkampioenskap is verlede naweek in die Pilditch stadion afgehandel en ‘n ryke verskeidenheid van atlete tussen die ouderdomme van 30 en 90 het bewys dat ouderdom inderdaad geen rede is om onaktief te wees nie.
Hoewel atlete van Gauteng-Noord die aksie oorheers het, was dit wel ‘n ope byeenkoms en atlete vanoor die hele land het ingeskryf om deel te neem.
Meesters atlete neem deel in ouderdomsgroepe van 5 jaar, wat begin by die 30-34 jariges. Daarna volg 35-39 jariges en so gaan dit aan in groepe van 5 jaar tot by die heel oudstes, wat internasionaal selfs 100-jariges kan insluit.
Die oudste deelnemer by vanjaar se Gauteng-Noord byeenkoms was John van de Venter, ’n fikse 90-jarige man wat die 3000 meter stap aangedurf het. Sy tyd van 24:37,12 minute beteken ’n gemiddeld van sowat 8 minute per kilometer. Dít is ‘n uitstekende prestasie wat aan hom ’n persentasie van 81% gee in terme van die internasionale gradering-skaal vir meesters atlete.
Volgens die gradering-skaal word atlete se prestasies omgeskakel na ‘n persentasiepunt, terwyl daar ook ‘n projeksie gedoen kan word wat die atleet se prestasie omskakel om vergelyk te word met die standaard van gewone senior atlete.
In terme van hierdie gradering is ‘n prestasie van 70% buitengewoon goed (kwalifikasie vir provinsiale kleure), maar by vanjaar se byeenkoms was daar verskeie prestasies wat 80% (kwalifikasie vir nasionale kleure) en selfs 90% (internasionale standaard) oorskry het.
Die ster van die byeenkoms was Andrzej Rzepecki van Kwazulu-Natal. Dié 81-jarige atleet het aan die spiesgooi, gewigstoot, hamergooi en gewig-gooi items in die kategorie 80-84 jaar deelgeneem. Gewig-gooi is ‘n item wat eksklusief deur meesters atlete beoefen word en dit kan ten beste beskryf word as ‘n kombinasie van gewigstoot en hamergooi. Atlete kompeteer deur ‘n gewig wat met ‘n handvatsel toegerus is so ver moontlik te gooi.
Rzepecki het twee prestasies gelewer wat meer as 95% op die graderingskaal werd was. Sy 43,72 meter in die hamergooi was 94% werd, terwyl sy 19,19 meter in die gewiggooi 96% verdien het.
Die gewese Olimpiese 400 meter ster, Adri Schoeman, het ook ‘n top prestasie gelewer toe sy die 200 meter vir vroue (45-49) in 25,85 sekondes gewen het. Dié prestasie het 91% op die graderingskaal verdien.
Nóg ‘n plaaslike vroue atleet, Madelein van Rooyen, se tyd van 57,95 sekondes in die 300 meter hekkies vir vroue (55-59) was 90% werd.
Ander bekende atlete wat in aksie was by die byeenkoms sluit in Burger Lampbrechts (gewigstoot, mans 40-44) en Chris Harmse (hamergooi, mans 40-44).
Die standaard van die byeenkoms word verder beklemtoon deur die feit dat sewe nasionale rekords in die slag gebly het.
Die meestersatletiek nasionale kampioenskap word vanjaar op 26-28 April in Bloemfontein aangebied en atlete wat kwalifiseer vir nasionale kleure sal ook in Oktober vanjaar in Spanje aan die meestersatletiek wêreldkampioenskap deelneem.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:






























