Local sportSport

Bulls druk vyf drieë en klop Stormers op Loftus

‘n Gelapte Bulls span het Saterdagaand op Loftus Versfeld vriend en vyand verras deur die Stormers oortuigend te klop.

Burger Odendaal en sy Bulls-trop is terug op die wenpad in die SuperRugby toernooi, nadat hulle die Stormers Saterdagaand op Loftus Versfeld met 33-23 geklop het.

Nadat beserings aanvanklik vir John Mitchell gedwing het om ‘n nuwe slotpaar vir die wedstryd te kies, het die ontrekking van Tim Agaba en Travis Ismaiel kort voor die wedstryd verdere ontwringting beteken. Daarom sê hierdie oorwinning baie vir die karakter en groei van Mitchell se groep in die toernooi.

Vir die Bulls se veteraan haker en voormalige kaptein, Adriaan Strauss, was die wedstryd ‘n persoonlike triomf. Hy het nie net die alleenhouer van die rekord geword vir die Suid-Afrikaner met die meeste SuperRugby wedstryde op sy kerfstok nie, maar hy het dit ook gevier met ‘n skitterende drieë driekuns.

Strauss, wat vanjaar puik rugby speel, het in die eerste 20 minute kort na mekaar twee keer oor die doellyn geduik ná puik dryfspel van die Bulls se voorspelers vanaf aanvallende lynstane.

Dié twee drieë is egter moontlik gemaak deur baie goeie aanvallende spel van die Bulls se voorspelers. Hulle het die Stormers van die afskop af onder druk geplaas en veral in die vaste skrums verras deur die oorhand te kry.

Toe Johnny Kotze boonop na ‘n halfuur gaan druk ná ‘n puik breekslag deur Handré Pollard, het die Bulls ondersteuners se hoop opgevlam dat hul gelapte span die Kapenaars sou verras.

https://web.facebook.com/BullsOfficial/videos/1723640074361068/?t=2

Die Stormers het in daardie eerste halfuur ook hul eie sop sout gemaak met herhaaldelike oortredings by die afbreekpunte en op die onkantlyn. Dit het só erg geraak dat die skeidsregter die Kapenaars amptelik moes waarsku en selfs op ‘n stadium vir Damian de Allende koelkas toe moes stuur met ‘n geelkaart.

Kort na De Allende terug was op die veld het die besoekers hulself egter reggeruk en in die laaste vyf minute is eers Jan de Klerk en daarna De Allende self oor die doellyn, om die punteverskil van 13 punte na net een (19-18) te laat krimp teen rustyd.

Anders as tydens hul toer in Australasië het die Bulls op hul tuisveld fokus behou en nie weer in die tweede helfte hul greep op die wedstryd verloor nie.

Adriaan Strauss het kort na rustyd sy driekuns voltooi met ‘n verspotmaklike drie ná ‘n glips deur die Stormers by ‘n lynstaan vyf meter van die Bulls se doellyn af.

Daarna het die Kapanaars alles in die stryd gewerp om terug te kom in die wedstryd. Dit het hulle egter byna ‘n halfuur geneem om oor die doellyn te kom, ten spyte van vele geleenthede – wat natuurlik ‘n pluimpie is vir die Bulls se verdediging.

Siya Kolisi was die man wat die Stormers weer binne trefafstand gebring het met sy drie.

Die tuisspan het egter onmiddellik teruggeslaan met ‘n drie deur Jesse Kriel en toe Pollard se doelskop deur die pale trek, was die verskil tussen die twee spanne tien punte.

Ná dié drie was daar nog tien minute se speeltyd oor. In plaas van verdedigend speel het die Bulls egter aanhou aanval en positiewe rugby bly speel. Kolisi en sy manne het hard probeer om ten minste ‘n verloor-bonuspunt te verdien, maar die Bulle het vasgebyt en hul tweede oorwinning van die seisoen op hul tuisveld behaal.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 33 Drieë:  Adriaan Strauss (3), Johnny Kotze, Jesse Kriel. Doelskoppe:  Handré Pollard (4).

STORMERS: 23 Drieë: Jan de Klerk, Damian de Allende, Siya Kolisi. Doelskoppe: Damian Willemse (1). Strafdoele: Damian Willemse (2)

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button